Dit volg nadat drie verdagtes die liggaam van hul 54-jarige dogter, Elzabé, uitgewys het ná ’n aanval op die besproeiingsperseel waar die bejaarde egpaar in blok M op Magogong gewoon het.

Die verdagte jeugdige mans, vermoedelik van Rooiwalle naby Taung in Noordwes is Maandag omstreeks 23:30 in ’n gesteelde Mazda CX5 van die egpaar op die N18-roete by Pudimoe deur die honde-eenheid van die polisie op Hartswater voorgekeer.

Nog ’n verdagte word gesoek.

Volgens ’n ingeligte inwoner van die gebied het die jeugdiges toe Elzabé se liggaam in die Taung-Buxton-gebied gaan uitwys. Volgens die verdagtes is die liggame van die ander twee slagoffers agter ’n bos met klippe toegepak. Die terrein is glo baie ruig, wat die soektog in die nag belemmer het.

Volgens bure van die Brands het die egpaar nog Sondag omstreeks 12:00 met ander mense kontak gehad, maar kort daarna het twee voertuie van die perseel vertrek.

Omstreeks 18:00 is bloederige sleepmerke in die huis van die slagoffers aangetref.

Volgens brig. Vishnu Naidoo is die ander gesteelde voertuig, ’n Nissan Micra, Maandagaand verlate by Majaneng op Taung, Noordwes, aangetref.

Volgens Naidoo is Elzabé vermoor, maar die presiese oorsaak van haar dood moet nog vasgestel word.

Hy het die moontlikheid van roof as motief vir die moorde uitgewys.

Enige inligting oor die voorval of die vierde verdagte kan by die polisie se misdaadnommer 086 00 10111 aangemeld word, of via die MySAPSApp.

*Die vierde verdagte is intussen in hegtenis geneem.

*Die egpaar se liggame is laat Dinsdagmiddag (28 Julie) gevind.