Mnr. Charles Back, eienaar van die wyn-en-kaaslandgoed Fairview by die Paarl, is op ’n spoggeleentheid in Bloemfontein, die stad waar die vereniging 40 jaar gelede gestig is, as 2017 se Boer van die Jaar aangewys.

Mnr. Warren Bam van Tulbagh, wat organiese uitvoertafeldruiwe verbou, is as die Nuwe Toetreder van die Jaar tot die Kommersiële Landbou aangewys en dr. Annemie Erasmus van die LNR se Instituut vir Graangewasse in Potchefstroom is vanjaar se Landboukundige van die Jaar. 

Back het Fairview vanaf ’n familieplaas in ’n internasionaal bekende landgoed ontwikkel. Fairview se wyn en kaas word jaarliks plaaslik en internasionaal bekroon.

Hy word allerweë as ’n pionier in Suid-Afrika se wynbedryf beskou. Onder sy leiding was die Fairview-span die eerste wat wynkultivars, soos Viognier, Tempranillo, Tannat, Sangiovese en Petite Sirah, ingevoer het. 

Hy het die eerste bokmelkfabriek in Suid-Afrika opgerig. Dit word deesdae as ’n koolstof-neutrale instelling bedryf.

Bam, ’n boorling van die sendingdorp Saron, het 13 jaar gelede begin boer nadat sy pad weer met dié van ’n vriend uit sy kinderdae, mnr. Breda van Niekerk, gekruis het. Warren se pa, Herman, het 32 jaar lank vir Breda se pa, Ben, op die Van Niekerks se familieplaas, Lushof, by Saron gewerk. Warren is in 2004 as plaasbestuurder op Lushof aangestel.

Nadat die plaas in 2006 aan mnr. Stephen Taylor van Dreammaker Fruits verkoop is, het Bam die geleentheid gekry om oorsese supermarkte en plase te besoek.

Teen 2015 het hy besluit om die kans te waag en ook vir homself te begin boer. Hy het ’n langtermyn-huurkontrak gesluit en op die buurplaas Gunsteling begin boer. Mnr. Johan van Niekerk, die eienaar, het Bam sedertdien die opsie gebied om die grond waarop hy boer te koop, onderworpe aan die onderverdeling van die grond. Bam het in 2015 ook ’n 26%-aandeel in mnr. Wessel van Niekerk se plaas Wesland bekom.

Erasmus is veral bekend vir haar navorsing oor die mieliestamboorder en die benutting van Bt-tegnologie as deel van ’n geïntegreerde plaagbestrydingstelsel. Sy is gereeld ’n spreker op boeredae, waar sy dikwels praat oor die gratis ekodienste wat ’n diverse en gebalanseerde insekte-gemeenskap in ’n bewaringsboerderystelsel kan lewer.

Sy bestudeer al jare lank die ontwikkeling van weerstandigheid teen Bt-tegnologie en die uitwerking van GM mielies op die omgewing. Voorts spits sy haar deesdae ook toe op die ontwikkeling van strategieë om die nuwe indringerplaag, herfskommandowurm, te bestry.

Onder die joernaliste wat op die jaarlikse geleentheid vereer is, was drie van Landbouweekblad. Nico van Burick het Santam Landbou se eerbewys vir beste dekking van die landbouskrywers se besoek aan 2016 se Boer van die Jaar ontvang, Johan Norval is deur BKB as Fotograaf van die Jaar aangewys, en Nan Smith, verbonde aan Landbouweekblad se susterpublikasie africanfarming.com, is as Agri Securitas en Agri SA se Landboujoernalis van die Jaar aangewys.