Dít was die boodskap van mnr. Ryno van der Merwe, voorsitter van die Namibiese Landbou-unie (NLU), op die jaarkongres van die Lewendehawe-produsente-organisasie (LPO) in Windhoek.

Hy het die Namibiese grondberaad saam met ’n klein afvaardiging van die NLU by gewoon, waar hulle ’n voorlegging “sonder intimidasie” kon doen. Die vyf dae lange beraad is deur sowat 800 mense, onder wie mnr. Hage Geingob, Namibiese president, en ander senior regeringslui bygewoon.

Oudpresidente Sam Nujoma en Hifikepunye Pohamba se voorlegging was volgens Van der Merwe “nogal ’n skrikwekkende ervaring weens hul radikale voorstelle”, soos dat ’n referendum gehou en die klousule in die grondwet wat eiendomsreg beskerm, geskrap moet word. Die regering het egter vinnig gereageer en bevestig dat die betrokke klousule nie verander kan word nie.

ONREGVERDIGE VERLEDE

“Ek wens elkeen van julle kon vir ’n halwe dag luister om bewus te word van wat werklik aangaan, hoe die bevolking se samestelling lyk en watter behoeftes en politieke emosies daar is.

"Elke spreker het na ’n onregverdige verlede verwys en beweer die kommersiële boere is bevoordeel. Dink net wat die gevolge sou wees as ons nié daar was nie. Ons het baie gesprek gevoer om ander perspektiewe te kry, onder meer met ministers,” sê Van der Merwe.

Wat hom baie gepla het, was veralgemenings, soos dat boere hul plaaswerkers swak behandel en sommer iewers gaan aflaai en daar los – iets wat dalk lank gelede gebeur het, maar nou as die norm voorgehou word.

Daar was ook beweringe dat boere plase “saboteer” nadat dit verkoop is deur sement in boorgate te gooi. “Dis nie waar nie.” Hy moedig boere aan om die 169 resolusies wat aanvaar is, te lees. Sekere besluite kan “drasties en indringend” wees. Geingob het dit duidelik gestel die status quo gaan nie langer gehandhaaf word nie.

EIENDOMSREG BLY

Die gunstige uitkoms is egter die bevestiging dat eiendomsreg beskerm word. Geingob het beklemtoon boere is belangrik vir Namibië. “Ons het ook ons standpunt gestel dat ‘een boer, een plaas’ nie werkbaar is nie,” sê Van der Merwe.

“Wat nou? Ek is nie moedeloos nie. Ek gaan voort om te doen wat ek in die verlede gedoen het en belê geld in my grond. “Ons moet egter op sekere vrae van die president ag slaan, soos wat ons gaan doen om werkers se lewensgehalte te verbeter, watter voorsiening ons vir hul aftrede maak en wat ons gaan doen om armoede uit te wis.

“Daar is ongelooflike druk op die president oor wanbalanse in die land. Ons grootste prioriteit lê by wat ons kan doen om hom te ondersteun. “Hy koester groot verwagtinge van ons,” sê Van der Merwe. Volgens hom stuur sommige mense ongelukkig blatante, aggressiewe WhatsApp-boodskappe die wêreld in.

Dan word die NLU daarmee gekonfronteer en die indruk word gewek dat alle boere vol aggressie is. Kommersiële boere moet ook voorkom dat hulle uitgesonder kan word as ’n klein groepie wat net aan hulself dink. Van der Merwe het reeds oproepe van mense gekry wat sê hulle het planne. “Dit is fantasties, want ons kan nou nog self oor planne besluit,” sê hy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.