Op die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging se AVI Africa-pluimveekonferensies het mnr. Willie Bosoga, herkose voorsitter van die eierorganisasie, in sy voorsittersverslag gesê in die Wes-Kaap, wat die swaarste getref is, het 70% van henne gevrek of is van kant gemaak.

Volgens Bosoga is eiers, ondanks die styging in eierpryse weens die verwoestende invloed van voëlgriep, per kilogram steeds die goedkoopste bron van proteïen.

Die situasie het ook tot ’n styging van 124% in invoer gelei, waarvan die meeste droë eierprodukte was.

Bosoga het gesê die bedryf het na raming sowat 500 (6,3%) werkgeleenthede verloor.

In die eerste vier maande van vanjaar sal die grootte van die lêhentrop na verwagting 8,3% kleiner wees as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar en eierproduksie sal 8,1% laer wees.

Bosoga het gesê die bedreiging van nog voëlgriepuitbrekings is vanjaar ’n werklikheid.

“As produsente moet ons saamwerk en ons aandag op streng biosekerheid toespits, anders staar werkverliese, eiertekorte, kleinhandelprysstygings en die toemaak van plase ons in die gesig.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.