Verskeie stappe, insluitend ’n petisie word beoog, sê mnr. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), in ’n verklaring.

Hy pleit ook dat mense wat weens slaggate op provinsiale paaie skade gely het, eisvorms invul wat deur die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer voorsien word.

“Ons moet veg daarteen om dié toedrag van sake as normaal te aanvaar. Ons kan nie net terugsit en niks doen nie. Ons moet aanhou druk toepas. Een manier is om eisvorms in te dien, sodat daar ’n skriftelike rekord opgebou word wat as bewys kan dien van die skadelike gevolge van die department se laksheid.”

Daar word ook vanuit die geledere van die plaaslike gemeenskappe ondersoek ingestel na die moontlikheid om siviele eise of ’n groepsgeding in te stel weens die skade en lewensverlies wat die gevaarlike paaie veroorsaak. Woede het in die provinsie opgevlam nadat ’n onderwyser en twee passassiers in ’n vragmotor op Vrydag 5 Maart gesterf het in die soveelste motorongeluk op die R103 tussen Warden en Vrede.

Netwerk24 het berig mnr. Waldo Ferreira (25), ’n onderwyser van die Gekombineerde Hoër- en Laerskool Vrede, het die leë skoolbus bestuur wat na bewering ’n slaggat getref het. Dit het ’n band laat bars en die bus het toe teen ’n aankomende vragmotor gebots.

“Die regering se arrogante en ongeërgde houding kan nie meer geduld word nie. Hoeveel lewensverlies moet daar nog wees voor die regering gaan optree?” vra Wilken. Hy meen die departement van paaie moet aanspreeklik gehou word vir die ongelukke weens sy nalatigheid om die paaie voldoende in stand te hou en te herstel waar nodig.

Volgens mnr. Johann du Toit, ’n skoolhoof in die Memel-omgewing en een van die eerste mense op die ongelukstoneel, leef die gemeenskappe van Memel, Warden en Vrede in vrees om die paaie te gebruik en is duisende rande se skade reeds aan voertuie aangerig weens die haglike verval.

paaie, vrystaat
Só lyk die gehawende R103 tussen Warden en Vrede. Foto: Johann du Toit
paaie, vrystaat
Só lyk die gehawende R103 tussen Warden en Vrede. Foto: Johann du Toit

VL se verklaring noem ook dat die drie gemeenskappe ’n komitee saamstel om die kwessie aan te pak. Van die stappe wat oorweeg word, sluit onder meer ’n petisie in waarin optrede van die Vrystaatse departement van polisie, paaie en vervoer geëis word.

Wilken sê hoewel die eisvorm deur die Vrystaatse departement van paaie verskaf word, kan mense wat sukkel om dit te bekom, met Vrystaat Landbou se kantoor in aanraking kom. Hy versoek ook dat ’n afskrif van die voltooide dokument wat by die departement ingedien word, vir rekorddoeleindes ook by info@vslandbou.co.za aan Vrystaat Landbou gestuur word. “Dit het lankal tyd geword vir die regering om kennis te neem van gemeenskappe se ontevredenheid. Ons gaan aanhou om druk op hom te plaas tot daar resultate is.”