Dit was die woorde van mnr. Johan Stolz, bevelvoerder van die Eenheid vir Gemeenskapsveiligheid (GVE) in Vaalharts in die omgewing van Jan Kempdorp en Hartswater. Die GVE is saamgestel uit buurtwagte en boereverenigings.

Dit kom nadat die gemeenskappe van die omgewing soos een man opgeruk het en in honderde voertuie - trekkers en stropers ingesluit - na die polisiekantoor en hof op Vaalharts is om hul misnoeë met die onlangse moord op die 83-jarige mnr. Danie Brand, sy 71-jarige vrou, Breggie, en hul 54-jarige dogter, Elzabie, by Magogong in die distrik Vaalharts in die Noord-Kaap te kenne te gee. Die vyf verdagtes wat in verband met die moorde aangekeer is, verskyn vandag in die hof.

 “Ek het Hartswater nog nooit so gesien nie,” het Stolz gesê met verwysing na die optrede deur die gemeenskap. “Ek kan nie sien hoe hierdie mense (die aangeklaagdes) borgtog kan kry nie. As ek die betrokkenheid van ons plaaslike polisiediens se senior lede, wat regdeur die inhegtenisnemings en ondersoek toegesien het dat die regte prosedures gevolg is, in ag neem, asook die moeite wat deur die GVE en ander belanghebbendes gedoen is, glo ek geregtigheid sal geskied,” het hy gesê.

* Intussen het mnr. Stefan Smith, voorsitter van die Vaalharts-distrikslandbou-unie, aan Landbou.com bevestig dat geen borgtog aan die vyf verdagtes toegestaan is nie en dat hulle weer op 13 Augustus in die hof sal verskyn. Die unie, Agri Noord-Kaap en verskeie ander rolspelers het 'n petisie en versoekskrif aan die staatsaanklaer oorhandig om nie borg aan die verdagtes toe te staan nie. Die petisie is deur sowat 600 mense onderteken.

Hartswater verdagtes
Die vyf verdagtes is: Tshepo Visagie, Kgomotso Mpulwana, Donald Seoleseng, Tshepoane Melato en Realeboga Manyedi. Foto: Verskaf
hartswater
Die gemeenskap ruk op. Foto: Verskaf
hartswater
Die gemeenskap ruk op. Foto: Verskaf