“Hier kom groei in hierdie land. Hier kom groot groei. Moenie dat siniese mense julle enigiets anders wysmaak nie,” het hy gesê.

Botha was hoofspreker op ’n boeredag van Levubu se makadamia- en avokadostudiegroepe. Hy het sy voorspelling gestaaf deur daarop te wys dat Suid-Afrika se kapitaalvorming in die tweede kwartaal teen ’n rekord 18% gegroei het en die bruto binnelandse produk met 3,1%.

“Kapitaalvorming is die aankoop van ’n trekker, ’n bakkie, ’n sementmenger of enigiets wat ’n besigheidsman nodig het om sy produk te produseer. Dit sê vir jou besigheidsmense is besig om te belê in die toekoms,” het Botha gesê.

Daar was ook groei in die invoer van olie en masjinerie en ná ’n lang afwaartse neiging het vervaardigingverkope weer toegeneem. “Kleinhandelverkope het in reële terme met 2,5% gegroei en korttermynversekering is besig om te groei, want mense koop weer bates aan. Toerisme groei, en huishoudelike inkomste groei,” het Botha gesê en daarop gewys dat die land se persentasie werkloses vandag dieselfde is as wat dit 30 jaar gelede was.

Hoewel hy toegegee het dat daar baie dinge in Suid-Afrika is om oor bekommerd te wees, voorspel hy dat 90% van die probleme wat die land tans ervaar, oor die volgende tien jaar geleenthede gaan word.

Nie ’n Mickey Mouse-ekonomie

Suid-Afrika het een van die mees diverse ekonomieë in die ontwikkelende wêreld en is een van die 30 grootste ekonomieë ter wêreld. “Ons is nie ’n Mickey Mouse-ekonomie nie,” het Botha gesê en aangevoer dat die land uiteindelik weer ’n president het waarop sy inwoners kan trots wees.

Hy het na die leierskaptermyn van oudpres. Jacob Zuma verwys as die nege verlore jare en dit as een van vier struikelblokke in die pad van ekonomiese groei en vooruitgang verwys.

Die ander struikelblokke was volgens Botha, die wêreldresessie in 2008 en die ses jaar van ekonomiese verlangsaming wat daarop gevolg het, saam met die ergste droogte in 100 jaar waaronder Suid-Afrika gebuk gegaan het.

Hoewel daar dele is wat nog baie droog is, is Botha optimisties oor die toekoms, want die vier struikelblokke is uit die weg geruim. Hy het gesê pres. Cyril Ramaphosa is besig om sy steunbasis in die ANC-regering daagliks te versterk en dat Suid-Afrika kan uitsien na beter beleid, nie net op ekonomiese gebied nie, maar ook wat grond en eiendomsreg betref.

Hy vermoed Suid-Afrikaners gaan op die ergste ’n artikel 25-wysiging van die Grondwet sien wat onteiening sonder vergoeding net van staatsgrond toelaat. Die staat besit ’n vyfde van die grond in Suid-Afrika.

Botha is opgewonde oor die ekonomiese plan wat mnr. Tito Mboweni, minister van finansies, onlangs namens die tesourie bekend gemaak het. “Ramaphosa en Mboweni weet wat fout is en hulle gaan dit regruk, maar nie oornag nie,” het Botha gesê.

Roelof Botha
Dr. Roelof Botha. Foto: Jasper Raats

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op WhatsApp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.