Mnr. Johan van den Berg, klimatoloog van Santam Landbou, sê die stelsel behoort sy hoogtepunt tussen November en Januarie bereik. “Daar is nou baie meer sekerheid dat El Niño wél sal ontwikkel.” 

Indien die stelsel wat tans ontwikkel, vergelyk word met die vorige El Niño-stelsel van die 2015-’16-seisoen, was die gemiddelde see-oppervlaktemperature van die Niño3.4-gebied ongeveer 1,5 °C warmer as normaalweg, vergeleke met die ongeveer 0,5 °C warmer as normaalweg wat in Julie vanjaar (2018) aangeteken is. 

Volgens Van den Berg is die westelike Indiese Oseaan tans nog in ’n neutrale fase, maar daar is aanduidings van ’n effens kortstondige verwarming. “Die El Niño-ontwikkeling is nou besig om plaas te vind. Die spoed waarteen dit ontwikkel, asook wanneer dit ontwikkel, kan egter die waarskynlikheid van reënval vir die grootste deel van Suid-Afrika in die eerste deel van die somer verhoog.” 

Van den Berg sê indien alle faktore in ag geneem word, kan die komende seisoen oor die algemeen ’n gemiddelde produksieseisoen wees, hoewel droë en warm toestande in die midsomer en dalk in die laatsomer kan voorkom.  

Reënvalvooruitsigte en ryp

Die verwagte vinnige El Niño-ontwikkeling in September en Oktober kan waarskynlik bogemiddelde reënval veroorsaak vir die eerste deel van die somer (September tot November), veral oor die sentrale tot suidoostelike dele van die somerreënstreek. ’n Redelike groot kans bestaan op ryp tot die eerste week van Oktober oor die sentrale tot suidelike dele van dié streek. Dit is weens die kouefronte wat Suid-Afrika steeds oor dié periode kan bereik.

In teenstelling met vorige voorspellings lyk dit tans asof die reënvalpatroon verskuif en dat reën binne die volgende maand of twee oor die suidelike en droogtegeteisterde dele van die Oos-Kaap gaan voorkom. Toestande lyk ook gunstig vir reën oor die grootste dele van die Wes-Kaap gedurende September en Oktober. “Die tydige reën behoort te sorg vir rekord-wintergraanoeste, maar reën kan probleme veroorsaak wanneer grane volwassenheid bereik en tydens oestyd,” sê Van den Berg.     

Namibië kan volgens Van den Berg ook in die midsomer geraak word deur die moontlike nadelige effek van die El Niño-stelsel. Daar is ook groter kanse op vroeë somerreën, wat die effek van die El Niño-stelsel kan versag.