Die wêreld se voorspellers is dit eens dat die El Niño-verskynsel, een van die drie kragtigste in sy soort sedert ten minste 1950, eers binne die volgende maand of wat sy hoogtepunt gaan bereik.

Dan behoort dit teen Suid-Afrika se herfs geleidelik te begin verswak, wat beteken die impak gaan nog ’n hele paar maande lank gevoel word.

Me. Emily Becker, ’n navorser-wetenskaplike van die Amerikaanse klimaat-agentskap NOAA, skryf in haar jongste maand-blog dat El Niño-verwante weerpatrone al maande lank oor die wêreld heen voorkom. Sy skryf dit sal nog etlike maande voortduur nadat die warmste temperature in die tropiese Stille Oseaan (waaraan die stand van El Niño gemeet word) bereik is.

Sy verwys na byvoorbeeld 1997-’98, toe El Niño in November sy hoogtepunt bereik het, maar die grootste afwyking van normale weerpatrone in Amerika dwarsdeur Amerika se lente van 1998 voorgekom het.

Die SA Weerdiens waarsku ook in sy jongste seisoen-vooruitskouing tot April vanjaar dat die meeste modelle wys El Niño gaan eers in Suid-Afrika se laat herfs en vroeë winter geleidelik begin afneem.

Mnr. Cobus Olivier, ’n senior klimatoloog van die weerdiens, sê voorspellings dui met groot vertroue daarop dat droë toestande regdeur die mid- en laatsomer oor die grootste deel van Suid-Afrika gaan voortduur.

Daarby wys die voorspellings vir Suid- Afrika se midsomer die waarskynlikheid van reënval wat baie ver onder die normale sal wees.

Dit is ook hoogs waarskynlik dat die bogemiddelde temperature deur die hele somer oor die grootste deel van Suid-Afrika gaan voortduur.

“Die droër en warmer toestande gaan na verwagting ekstreem wees, ten minste in die midsomer. Hierdie voortgesette droë toestande, saam met uiterste droë en warm toestande wat vir die hele somer verwag word, mag die heersende droogtetoestand vererger,” lui sy verslag.

Intussen waarsku mnr. Michel Jarraud, die sekretaris-generaal van die Wêreld- Meteorologiese Organisasie (WMO), dat hierdie El Niño hom in onbekende toestande afspeel, weens die gepaardgaande vlak wat aardverwarming nou bereik het.

“Ons wetenskaplike begrip van El Niño het die laaste paar jaar drasties verbeter. Maar vanjaar se El Niño speel in onbekende toestande af. Weens klimaatsverandering het ons planeet drasties verander. Die algemene neiging is ’n warmer oseaan, die verlies van Arktiese see-ys en van meer as ’n miljoen vierkante kilometer se somer-sneeubedekking in die Noordelike Halfrond.

“Hierdie El Niño, wat ’n natuurlike verskynsel is, en klimaatsverandering, wat deur die mens veroorsaak is, mag dus met hul interaksie mekaar op maniere verander wat ons nog nooit voorheen ervaar het nie,” sê hy.