Die aantal moorde in die eerste kwartaal vanjaar is 387 meer as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar. Dit kom neer op 8,3 moorde per 100 000 inwoners Suid-Afrika.

Van die elf mense wat op plase en kleinhoewes vermoor is, was vier plaaseienaars, vier plaasbewoners, twee plaaswerkers en een ’n sekuriteitswag.

In dieselfde tydperk was daar ’n afname in eiendom- en veediefstalle. Misdaad van plaaseiendom het met 20,8% afgeneem en veediefstal met 11,1%. Veral skape, pluimvee en beeste is gesteel, maar selfs varke en donkies is gesteel. Gauteng is die enigste provinsie waar veediefstal toegeneem het. Mpumalanga se syfer was dieselfde as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Oor ander misdade het Cele gesê inbrake in residensiële- en nie-residensiële gebiede het drasties afgeneem, terwyl diefstal van voertuie en uit voertuie met dubbelsyfers afgeneem het. Geweld binne gemeenskappe het onaanvaarbare afmetings aangeneem. Hoewel aanrandings met 9% afgeneem het, is meer as 75 000 sake van aanranding van Januarie tot Maart by polisiekantore aangemeld.

Cele het gesê in 2 855 klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer is dit bevestig dat alkohol ’n rol gespeel het by die slagoffers of die aanvallers. Altesaam 2 047 voorvalle het by drinkplekke soos kroeë en nagklubs voorgekom. Daar was ook meer as 16 000 voorvalle van huishoudelike geweld. “Ons sal moet werk aan alkoholmisbruik. Gemeenskappe kan nie meer eenkant staan en net toekyk nie. Hulle sal moet sê ‘nee’ vir alkoholmisbruik.”

Motorkapings het met 5% toegeneem, terwyl daar 372 meer rooftogte by huise was as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Rooftogte in nie-residensiële gebiede het met 2,8% toegeneem en 354 vragmotors is vir hul vrag gekaap – ’n dubbelsyfer-toename.

Hy het gesê daar word gewerk aan meer sigbare polisiëring en polisiepatrollies, en dat ’n goeie verhouding tussen die polisie en gemeenskappe nou belangriker as ooit is. “Misdadigers moet nie beweegruimte gegee word nie, want hulle huiwer nie om hul doelwitte te bereik nie. Asof dit nie genoeg is nie, het ons nog die vyand van Covid-19 wat al die lewe van 608 polisiebeamptes geeïs het.”

In die eerste drie maande van die jaar is 24 polisiebeamptes vermoor waarvan 11 aan diens was.