Dr. Mmaphaka Tau, hoof van die nasionale rampbestuursentrum, versoek alle departemente en staatsinstellings om dié instellings wat reeds hulp lewer, te ondersteun om seker te maak dat steun aan die geaffekteerde areas gelewer word.

Me. Andrea Campher, ramprisikobestuurder by Agri SA, sê die organisasie het sy provinsiale affiliasies versoek om opnames onder hul lede te doen oor die skade wat hulle gely het, sodat Agri SA ’n onafhanklike verslag oor skade op hul lede se plase kan indien.

Talle plaaspaaie is ernstig beskadig nadat swaar neerslae oorstromings veroorsaak het. Verskeie boere het skade aan hul gewasse aangemeld. Riviere het hul walle oorstroom sodat veral landerye of wingerde langs riviere onder water was. “Ons sal die begrotingsrede volgende week fyn dophou om te hoor of en watter geld vir ramphulp verskaf sal word,” sê Campher.

Mnr. Henry Geldenhuys, voorsitter van TLU SA, sê hulle is veral bekommerd oor die stand van paaie, veral grondpaaie wat erg verspoel het. “Ek hoop dat geld beskikbaar gemaak sal word om dié infrastruktuur te herstel, want ons is amper weer by ’n oesproses en boere moet hul produkte padlangs by ’n silo of mark kry. Dit gaan in die komende maande ’n groot kwessie word.”

Boere met hout op hul plase of wat vee na ’n slagpale of na en van ’n veiling moet vervoer, ervaar ook groot probleem met vervoer wat soms nie kan plaasvind nie. “Ek hoop dat die geld, as daar is, oordeelkundig aangewend sal word om hierdie infrastruktuurskade so vinnig as moontlik te herstel tot voordeel van die landbou en kos op die tafel,” sê Geldenhuys. “Ons is dankbaar dat dit só hanteer word, maar dan moet daar nou iets gebeur. En dit gaan die grootste kwessie wees.”