Só sê dr. Requier Wait, hoof van ekonomie en handel by Agri SA, in reaksie op die regering se jongste geïntegreerde hulpbronplan (GHP) wat pas in die Staatskoerant afgekondig is.

Die plan lui dat, gegewe die onmiddellike energietekort, ’n verhoging van die toewysing vir kleinskaalse kragopwekking ’n geleentheid bied om aandag aan die tekort te gee.

“Ontwikkeling van kragopwekking vir eie gebruik moet aangemoedig word deur beleidsrigtings en regulasies wat ontslae raak van burokrasie sonder om aanbodsekerheid in gevaar te stel,” luidens die plan.

Agri SA en besigheidseenheid Suid-Afrika (Busa), waarvan die landbousakekamer Agbiz lid is, het juis kort voor die afkondiging van die GHP in verklarings gevra dat die deelname van die private sektor in die energiesektor bevorder moet word.

Busa het gevra dat kleinskaalse netwerkgekoppelde kragopwekkingsprojekte tot 10 MW van lisensiëring kwytgeskeld moet word, pleks van die huidige 1 MW, om só beduidende nuwe beleggings te lok. “So ’n ingryping, wat betreklik vinnig in werking gestel kan word, sal aanbodsekerheid vir noodsaaklike sektore van die ekonomie verseker en druk op Eskom se aanbod verlig.”

Mnr. Gwede Mantashe, minister van minerale hulpbronne en energie, het met die bekendstelling van die GHP op ’n mediakonferensie die groeiende rol van opwekking vir eie gebruik erken en gesê die plan maak daarom voorsiening daarvoor.

“Dié voorsiening het ten doel om weg te doen met die nodigheid vir ministeriële afwykings vir die lisensiëring van opwekking vir eie gebruik vir aanlegte groter as 1 MW. Ons glo dit sal belegging in klein energieprojekte soos biomassa, biogas, vullisterreine en mede-opwekking ontsluit,” het hy gesê.

Wind en son

Wait het die goedkeuring van die GHP in die algemeen as ’n stap in die regte rigting verwelkom.

Luidens die GHP moet die regering, weens die tekort in die huidige aanbod van krag en om Eskom se gebruik van dieselkragopwekkers te verminder, dadelik met ’n mediumtermyn-kragaankoopprogram begin.

Die plan maak voorsiening daarvoor dat die bydrae van grootskaalse fotovoltaïese sonkrag- en windkragopwekking teen 2030 tot onderskeidelik 7% en 18% van die totale energie-aanbod styg.

Mantashe het gesê volgens die GHP sal steenkool teen 2030 steeds Suid-Afrika se belangrikste bron van energie wees, maar sy bydrae sal tot 59% daal. Die res van die energie sal gelewer word deur kernkrag (5%), hidrokrag (8%), en gas-tot-elektrisiteit- en opgebergde krag (2%).

Die plan maak daarvoor voorsiening dat die bykomende energiekapasiteit wat van nou tot 2030 toegevoeg word, sal bestaan uit 6 000 MW fotovoltaiëse son-, 14 400 MW wind-, 1 500 MW steenkool- en 2 500 MW hidrokrag, en 3 000 MW gas en 2 088 MW opgebergde krag.

Prof. Anton Eberhard, voorsitter van die presidensiële taakspan oor Eskom se volhoubaarheid, het kort voordat die GHP goedgekeur is in ’n voorlegging aan Busa se ekonomiese subkomitee die belangrikheid van bykomende son- en windkragkapasiteit benadruk omdat dit vinniger gebou kan word as opwekkingsgeriewe vir steenkool, kernkrag en gas.

Hy het gesê dit is nodig vir ’n volgende ronde vennootskappe tussen die openbare en private sektore vir die lewering van hernieubare energie en dat pryse laer as 45c/kWh sal wees, wat die opvatting dat onafhanklike kragverskaffers duur is, uit die weg sal ruim.

“Om Eskom reg te ruk, is regtig moeilik. Om die mark vir private belegging in nuwe krag oop te maak, is in vergelyking betreklik maklik,” het hy gesê.

Skaliesgas

Mantashe het gesê gas-tot-elektrisiteitskrag se bydrae teen 2030 word tans nog onderskat, gegewe die potensiaal daarvan. “Ons voorspelling is dat gas die speelveld in die land gaan verander.”

Dit hang egter af van die land se eie moontlike gasbronne en Mantashe het onder meer verwys na die gas wat Total onlangs gevind het en die skaliegas in die Karoo.