'n Sinkgat van 100m lank, wat op plekke tot 30m diep is en 10m wyd is, het op die grond van mnr. Andries van Zyl op die plaas Mount Carmel tussen Kuruman en Daniëlskuil ontstaan.

Netwerk24 berig dié enorme sinkgat is moontlik die gevolg van goeie reën wat die afgelope paar weke in dié gebied geval het, sowel as die teenwoordigheid van dolomietformasies in die omgewing, wat soms tot sinkgate kan lei. Volgens Van Zyl het hy reeds meer as 170mm reën op sy plaas gemeet.

Die sinkgat was aanvanklik net 'n kraak in die grond maar het binne twee uur in 'n sinkgat verander. Die gat is in die nabyheid van die R31 wat tussen Kuruman en Daniëlskuil loop.

Motoriste behoort versigtig op paaie in dié omgewing te bestuur, aangesien sinkgate vinnig kan ontstaan en tot ongelukke kan lei.

Kyk hier na 'n video van die sinkgat.

Bron: Netwerk24