Die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sê in ’n verklaring die onlangse goeie reën in sommige dele van die land gaan lei tot ’n toename in muskiete wat die siekte oordra. Slenkdalkoors is ’n ernstige virussiekte wat deur muskiete versprei word en lei tot aborsies en vrektes onder jong beeste, skape en bokke.

Mense wat in aanraking kom met bloed en ander liggaamsvloeistowwe van besmette diere kan ook die siekte kry. 

Lewende entstof (OBP Live) kan slegs gebruik word vir diere wat nie dragtig is nie, aangesien hierdie entstof aborsies kan veroorsaak. Dragtige diere moet met onaktiewe of “dooie” entstof (OBP) ingeënt word.

Enige vermoede dat die siekte dalk êrens voorkom, moet onmiddellik by die naaste staatsveearts aangemeld word.

Dr. Pieter Vervoort, uitvoerende hoof van die nasionale dieregesondheidsforum, het boere reeds voor die aanbreek van die somer aangeraai om hul vee in te ent. Hy het gesê Suid-Afrika se veestapel is tans vatbaar omdat daar lanklaas ’n uitbreking van slenkdalkoors was en boere nie voldoende ingeënt het nie. Daar was kommer dat die siekte met die vorige somerreëntyd sou uitbreek, maar weens droogtetoestande het dit nie gebeur nie.