Twee teenstrydige weergawes van die entstof-situasie het aan die lig gekom nadat Landbouweekblad met dr. Steven Cornelius, hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte, en verskeie landboumaatskappye gesels het om uit te vind wat aan die gang is.

Op ’n vraag oor die huidige situasie aangaande die beskikbaarheid van belangrike entstowwe vir die plaaslike veebedryf, het Cornelius per e-pos geantwoord dat alle entstowwe teen vektor-oordraagbare siektes tans beskikbaar is. “Met betrekking tot brusellose het ons tans ’n voorraad van Brucella S19-entstof. Meer van hierdie entstowwe word tans getoets en sal in Oktober vanjaar (2016) beskikbaar gestel word,” het Cornelius gesê.

Wat die verspreiding van die entstowwe betref, veral in die lig van die beëindiging van die OBP se verspreidingsooreenkoms met Bayer, het Cornelius gesê die kontrak het in Maart vanjaar (2016) verstryk. Die beëindiging van die kontrak het nie OBP se verspreidingsvermoë beïnvloed nie. “Alle koöperasies, veeartse en groothandelaars kan OBP-entstowwe in die hande kry,” het hy gesê.

Hierdie prentjie verskil egter hemelsbreed van landboumaatskappye se siening. In ’n vinnige opname deur Landbouweekblad het al die landboumaatskappye met wie daar gesels is in ’n meerdere of mindere mate probleme ervaar met die verspreiding van OBP se entstowwe.

Een van die maatskappye het ook genoem dat OBP sy aankooprekening gesluit het nadat daar ’n administratiewe fout by ’n bestelling ingesluip het. “Die administratiewe gedeelte van OBP se entstof-afdeling is al klaar ’n totale gemors. Hoe gaan die entstof-situasie uitgesorteer word?” wou die bron weet.

Volgens bronne by NWK is die voorraad entstowwe bitter min. Daar is niks entstowwe teen brusellose, slenkdalkoors (Kloon 13) en bloutong nie, terwyl enkele dosisse entstowwe teen knopvelsiekte en drie-dae-stywesiekte nog by enkele takke verkrygbaar is. Een van die takke, wat verlede jaar nog honderde dosisse Pasteurella-entstof verkoop het, het vanjaar nog nie ’n enkele dosis van hierdie tipe entstof verkoop nie. “Afgesien van die impak wat dit op boere se vermoë het om die seisoen binne te gaan, het dit ook ’n nadelige uitwerking op NWK se verkope,” het die bron gesê.

Van die ander landboumaatskappye wat Landbouweekblad oor die situasie uitgevra het, het GWK, Suidwes, en ook VKB hulle kommer uitgespreek oor die gebrek aan terugvoering wanneer dit by navrae oor die beskikbaarheid van entstowwe kom. “By VKB is die beskikbaarheid van die Brucella-19-entstof ’n baie groot probleem, terwyl ’n besending entstowwe teen E. coli, wat veronderstel is om na die Bethlehem-tak te gaan, ook problem opgelewer het,” het me. Susan Ferreira, aankoopbestuurder van VKB gesê. Sy het intussen met die OBP in verbinding getree om ’n lys van beskikbare entstowwe te verkry, maar daar het intussen nog dadels van die voorgenome lys gekom.

“Die gebrek aan entstowwe is ’n groot krisis, asook die gebrek aan terugvoering,” het Ferreira gesê. “VKB het nog tot in ’n stadium bloutong-entstof van OBP af gekry, maar die volgende wat ons gehoor het, is dat daar nie meer van die entstowwe oor is nie. En dit is nou die tyd om in ons gebiede teen bloutong te spuit,” sê sy. Ferreira het gesê sy is raadop oor die gebrek aan antwoorde. “Wat my bekommer, is dat daar nie terugvoering is oor wat beskikbaar is nie. Terwyl die vorige verspreidingskontrak gegeld het, was daar ook haakplekke, maar daar was darem altyd terugvoering. Nou voel dit asof ons kontak met die maatskappy verloor het. En intussen soek die boere antwoorde by hul koöperasies,” het sy gesê.

Cornelius het gesê die OBP werk tans aan ’n nuwe, internetgebaseerde stelsel wat die OBP se kliënte regstreekse toegang tot sy produkte sal gee. “Ons werk ook aan ons webblad om dieselfde stelsel teen die einde van Oktober vanjaar (2016) in werking te stel. Dit sal ook die kwessie ten opsigte van watter entstowwe beskikbaar is sal aanpak,” het hy gesê.