Die storm, wat in ’n breë strook van sowat 100 km lank tussen Devon in Gauteng tot naby Middelburg in Mpumalanga gewoed het, het duisende hektaar mielies en sojabone binne minder as ’n halfuur verwoes.

“Ons almal verkeer nog in ’n toestand van skok. Verlede week was daar nog ’n baie goeie oes op die lande, en ná Saterdag het ons skielik omtrent niks oor nie,” sê Boshoff. Die situasie is dieselfde op verskeie plase in die omgewing waar hael en wind skade van derduisende rand aangerig het.

Hy sê boere weet nie meer waarheen nie. “Dit is ’n baie moeilike seisoen. Versengende droogte in die weste en uiterste storms wat groot skade aanrig wanneer dit kom reën. Dit laat ’n boer moedeloos.”

Hy sê hy sal vir eers moet gaan beplan hoe om die terugslag te bestuur. “Ek het vanoggend nie geweet wat om vir my werkers te sê nie. Ons sal nou in die komende week moet sit en deeglik beplan hoe om die situasie te bestuur, maar vir nou staan ons voor ’n groot finansiële hindernis. Boere in die omgewing is stom. Woorde kan nie die verwoesting beskryf wat deur die storm aangerig is nie.”

Wind maak hael erger

Mnr. Peet Bezuidenhout van die plaas Welgelegen naby Delmas sê die wind het die hael se snelheid verhoog en honderde hektare se mielies is platgeslaan en omgewaai. Waar die mielies nie afgeslaan is nie, het die hael ernstige stamskade aangerig.

“Ons sal wel op ’n kleiner gedeelte van hierdie mielies, wat uit witmielie-aanplantings bestaan, met ’n swamdoder spuit om verdere skade te probeer voorkom, maar verreweg die meeste mielies het baie erg deurgeloop en ons sal hulle nie kan bespuit nie.”

Verskeie mielie-aanplantings, wat nou in die gevoelige pluimstadium is, se pluime is afgeslaan. Foto: Peet Bezuidenhout
Die storm het gepaardgegaan met ’n sterk wind wat mielies omgewaai, bome ontwortel en skure se dakke afgewaai het. Foto: Peet Bezuidenhout
’n Verwoestende storm het groot skade aan gesaaides en infrastruktuur op die Hoëveld in Mpumalanga aangerig. Foto: Peet Bezuidenhout

Hy sê dat die situasie in die komende week deeglik nagegaan sal word om die omvang van die skade te bepaal. “Ek het wel gesien dat van die jonger plante darem weer effens begin opstaan nadat die wind hulle plat teen die grond gewaai het, maar ons sal binne die komende week eers werklik kan bepaal hoe erg die skade is.”

Skade aan infrastruktuur

By mnr. Dries Duvenhage, wat sowat 10 km van Bezuidenhout af boer, het die wind onder meer ’n skuur se dak afgeruk. Hy sê die haelintensiteit het teen daardie tyd begin afneem, maar die wind het groot skade aangerig.

“Ons het plek-plek haelkorrels so groot soos gholfballe gesien, maar teen die tyd dat die storm by ons verbygetrek het, het die hael begin afneem. Die wind het egter groot skade aangerig met onder meer dieseltenks wat van hulle staanders gewaai en groot bloekombome wat omgewaai is.”

Boere sal in die komende week met hul versekeraars vergader om die totale omvang van die skade te bepaal.