Mnr. Thys Delport, een van die boere, sê die amptenare, van die kragmaatskappy se distribusie-afdeling in Bloemfontein, moes baie ure oortyd werk nadat die toring tussen die mielies buite Virginia omgeval en die hoogspanningslyn, wat van Standerton af Koeberg toe strek, bo-oor hul plaaslike Eskom-lyn saam met ’n rits pale omgetrek het.

Dit was laatnag in ’n storm met erge rukwinde.

Aanvanklik is gesê die lyn sal eers veilig gemaak word, en hulle gaan waarskynlik ’n week lank nie krag hê nie. In ’n stadium is selfs gemeen die herstelwerk kan ’n maand duur. 

Toe die boere egter hul oë uitvryf, was die spanne van Bloemfontein en Welkom op hul pos, met gewysigde en innoverende planne. Die boere het hand bygesit, onder meer hul trekkers beskikbaar gestel, en teen die Sondagaand het die gebied se plase weer krag gehad.

Delport sê toe hy verlede Sondag, ’n besonder warm dag, by die omgevalde toring op sy huurplaas aankom, was daar altesaam 14 Eskom-voertuie, waaronder drie vragmotors, saamgetrek met ’n werkmag van 25. Hy was so beïndruk dat hy opsluit vir almal op die dorp KFC en Coke gaan koop het.

“Ons was só dankbaar!” sê hy.

Mnr. Monte Pienaar, 'nboer van die omgewing, sê hy het namens die streeksmunisipaliteit 'n opnamegedoen van die skade wat boere weens diestorm gely het. Dit beloop reeds R12,2 miljoen, en kan selfs hoër wees omdat van die boere nog hul syfers aan hom moet deurgee. Dit sluit skade aan geboue, werkershuise, voertuie, toerusting, vee en gewasse in.