As die koalisie van elektrisiteitkundiges (EEKO) se beweringe bewaarheid word en Eskom se nuutste regulatoriese rekeningklaringaansoek (RCA) deur Nasionale Energiereguleerder (Nersa) goedgekeur word, kan die gemiddelde besproeiingsboer se totale produksiekoste met tot 6% toeneem. Eskom verduidelik egter dat dit slegs teoreties waar is indien die volle bedrag van R67 miljard deur Nersa goedgekeur word en dit in ’n enkele jaar verhaal word.

In Eskom se inkomste-aansoek vir 2018-’19, wat op 17 September 2017 gepubliseer is, word bereken dat Eskom se tariewe, soos deur Nersa goedgekeur is vir die afgelope drie boekjare, te laag.

“Die verbruiker het dus te min betaal vir elektrisiteit oor hierdie tydperk,” sê mnr. Deon Conradie, Eskom se senior bestuurder vir elektrisiteitsprys. Om hierdie tekort reg te stel, moet Eskom ’n verdere R67 miljard van die verbruiker verhaal vir koste verbonde aan krag wat reeds die afgelope drie jaar verbruik is.

Is dit 30% of nie?

EEKO voer aan dat Eskom hierdie geld eintlik wil verhaal om die verliese wat weens wanbestuur, korrupsie en staatskaping ontstaan het, te finansier. Conradie meen hierdie bewerings is misleidend aangesien Nersa verseker dat slegs koste deur die RCA-proses verhaal word. Verder is die oorbesteding van Eskom se bedryfskoste nie ingesluit in die RCA-meganisme nie, wat beteken dat alle koste vir die betaling van konsultante dus uitgesluit is.

“Die ongerymdhede by Eskom word ondersoek deur die Nasionale Vervolgingsgesag en ’n parlementêre komitee. Die R67 miljard wat verhaal moet word, is bepaal deur metodiek en stelsels wat deur Nersa voorgeskryf en gereguleer word. ’n RCA is ’n rekonsiliasie-oefening en nie ’n heffing vir elektrisiteit wat in die toekoms gelewer gaan word nie,” sê Conradie.

“In die proses word nie net na oorbesteding gekyk nie, maar ook na alle onderbesteding wat weer aan die klante as deel van die proses teruggegee word. Hierdie twee elemente word teen mekaar afgespeel om die finale RCA-balans vir ’n spesifieke tydperk te bepaal wat deur Nersa goedgekeur word.”

EEKO voer aan dat as hierdie R67 miljard binne een jaar van die verbruiker verhaal moet word, dit ’n 30%-tariefverhoging meebring. Volgens Conradie het Eskom egter nog nooit aangevoer dat hy die R67 miljard binne een jaar terug wil hê nie. “Ons voorstel is dat hierdie R67 miljard in ’n bekostigbare tarief omgeskakel word wat oor ’n tydperk van ’n paar jaar verhaal word. Dit sal beteken dat daar jaarliks bykomende verhoging van ongeveer 3%, benewens die normale tariefverhoging, aan die verbruiker oorgedra word. Dit bly egter ’n besluit van Nersa en word nie deur Eskom bepaal nie.”

Hofuitspraak bevestig wetlikheid

Die rede hoekom Eskom ’n RCA-aansoek vir die afgelope drie jaar ingedien het, is omdat Nersa die afgelope drie jaar nie RCA-aansoeke verwerk het nie, want hy was vir hierdie tydperk in ’n hofgeding betrokke. “ ’n Sakegroep van die Nelson Mandelabaai Munisipaliteit het Nersa hof toe gesleep omdat daar beweer is dat Nersa nie die regte prosedure gevolg het toe die RCA-aansoek in die 2013-’14-boekjaar goedgekeur is nie. In die Appèlhof met ’n vol bank van vyf regters is in Augustus bevind dat die RCA-aansoekproses wel ’n wettige proses is,” sê Conradie.

As hierdie voortdurende skokke aan die verbruiker in die toekoms voorkom moet word, sal Nersa moet verseker dat Eskom se tariewe verhoog word om seker te maak dat sy produksiekoste gedek word deur die tarief wat verbruikers betaal. Met hierdie vasstelling is EEKO egter ook nie tevrede nie. “Hoewel oudits (van Eskom se RAC-aansoek) kan bevind dat die bedrag waarom aansoek gedoen word onder opskrifte staan waarvoor wetlik geëis mag word, het niemand tot nou ’n onafhanklike oudit van Eskom se syfers gedoen het om die omvang en die bedrag te bepaal wat terugbetaalbaar is weens diefstal oor die afgelope drie jaar nie,” sê EEKO.

Volgens Conradie is Eskom ook bekommerd oor die stygende elektrisiteitskoste van die entiteit omdat dit al hoe lonender begin raak vir Jan en alleman om sy eie elektrisiteit op te wek. “Tans is batterye nog te duur. Verbruikers is dus steeds in ’n groot mate afhanklik van die Eskom-netwerk, maar na my mening gaan dit in die toekoms nie meer die geval wees nie.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.