Luidens ’n verklaring sê die kragverskaffer dat een van sy werknemers wat aan diens was, glo die naweek (Saterdag 4 April) by die voorval op ’n Noord-Kaapse plaas betrokke was.

“Sulke gedrag is heeltemal onaanvaarbaar. Eskom beskou dié bewerings in ’n ernstige lig en nadat die gereg sy verloop geneem het, sal interne tugstappe oorweeg word, indien nodig,” sê me. Stefanie Jansen van Rensburg van Eskom se korporatiewe afdeling.

Eskom se reaksie volg ná ’n striemende boodskap in die sosiale media waarin ’n Noord-Kapenaar, mnr. Carel van der Merwe, bekend gemaak het dat boere die insittendes van Eskom-voertuie tussen Carnarvon en Prieska voorgekeer het nadat hulle glo skape gesteel het.

Van der Merwe het die feit betreur dat Eskom-werkers die sleutels van plaashekke het, wat hulle makliker toegang tot plase gee. Hy het in sy inskrywing op die sosiale media beweer dat die werknemer nie aan diens was nie en glo oortyd by Eskom vir sy uitstappie sou eis.

skaapdiefstal eskom
Polisielede ondersoek ’n toneel tussen Prieska en Carnarvon waar boere ’n Eskom-bakkie met ’n Noord-Kaapse registrasienommer voorgekeer het. Foto: Verskaf