Die Europese Unie se staande komitee vir plante, diere, voedsel en voer, het besluit om geen verdere stappe te neem om te probeer keer dat Europese boorde met swartvlek deur Suid-Afrikaanse sitrusuitvoer besmet word nie.

Dit volg ná 'n ondersoek deur die Europese kantoor vir voedsel en veeartsenykunde (FVO), 'n onafhanklike liggaam wat plant-, diere- en voedselgesondheid monitor.

Mnr. Deon Joubert, spesiale gesant vir marktoegang en EU-sake by die SA Sitruskwekersvereniging (SKV), sê die komitee het wel in Brussel sy kommer uitgespreek oor die getal onderskeppings van Suid-Afrikaanse sitrus vanjaar.

Die FVO se voorlegging waarin die verbeteringe en aanpassings in Suid-Afrika se swartvlek-risikobestuurstelsel uitgelig is, was egter deurslaggewend. Geen opskorting in handel of sluiting van markte word verwag nie.

Joubert sê die komitee kom weer oor drie weke bymekaar en dit is belangrik dat Suid-Afrika by die prosesse en stelsels hou om te verseker dat die land se sitrus nie weer op die agenda beland nie.

In Julie het Suid-Afrika die uitvoer van organiese suurlemoene na die Europese Unie gestaak nadat by drie besendings suurlemoene simptome van swartvlek deur Europese voedselinspekteurs geïdentifiseer is.