Die afvaardiging het ’n dokument op sy webwerf gepubliseer waarin hy dié bewerings probeer weerlê.

Die publikasie van die dokument kom ’n paar weke ná ’n besoek van amptenare van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aan die EU-lande wat in 2016 en 2017 voëlgriepuitbrekings gehad het en daarom sedertdien nie hoendervleis na Suid-Afrika kon uitvoer nie.

Invoerders was verlede jaar gefrustreerd omdat die departement nie, soos in die verlede, die verbod onmiddellik opgehef het toe EU-lande hulself weer vry verklaar het nie.

Die departement wou eers self amptenare stuur om hulle van die situasie te vergewis. Nadat dié besoeke nou plaasgevind het, word verwag dat Suid-Afrika sy grense binnekort weer vir die betrokke lande gaan oopstel.

Die EU-afvaardiging beskryf dié verbod van langer as ’n jaar as “ ’n ongekende proteksionistiese veldtog”.

Die afvaardiging sê EU-invoer van hoenderstukke aan die been was boonop van Desember 2016 tot Julie 2017 aan ’n voorlopige beskermingsmaatreël onderworpe, terwyl ’n finale beskermingsmaatreël tans deur lande in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie oorweeg word.

“Dit ondanks die feit dat (Suid-Afrikaanse produsente se) koste van produksiemiddele sedert 2016 beduidend gedaal het.” 

Ander lande voer in

Die afvaardiging sê verlede jaar is 71,9% minder hoenderstukke aan die been uit die EU ingevoer.

Dié invoer is egter vervang deur invoer van ander lande en nie deur plaaslike produksie nie.

“Daar is geen saak daarvoor uit te maak dat EU-pluimveeprodusente die plaaslike mark ondergrawe of oorstroom nie.”

Ander onwaar bewerings is volgens die afvaardiging dat:

-         Europese hoendervleis wat ingevoer word, van ’n swak gehalte is. Die afvaardiging sê die ingevoerde hoendervleis is van dieselfde hoë gehalte as wat in die EU verkoop word. Die EU het hoë standaarde vir voedselveiligheid en as produsente pekelwater tot hoender wil byvoeg, soos wat met Suid-Afrikaanse kitsbevrore stukke gedoen word, moet die etiket lui dat dit “pluimveevoorbereiding” is;

-         EU-produsente gesubsidieer word. Pluimveeproduksie of -uitvoer word nié gesubsidieer nie; en

-         Hoendervleis wat uit die EU ingevoer word, goedkoop is, gestort word of roofpryse het. EU-braaihoenderpryse is deurlopend hoër is as dié van ander groot invoerderlande s’n, veral Amerika en Brasilië. Die afvaardiging sê as die hoendervleis gestort sou gewees het, hoekom het die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV) nie ’n stortingsklag by die Kommissie vir Internasionale Handelsadministrasie (Itac) ingedien nie, soos wat hy in die verlede gedoen het.