Die sonplaas bestaan uit 64 tafels op die grond met 1 536 sonpanele, 16 omsetters en 776 kragoptimaliseerders. Die plaas het ook sowat 12 km kabel.

Dit verskaf 560 kWp krag gedurende die dag. Na beraming sal dit jaarliks byna 1 027 mWh krag verskaf en 19 681 mWh oor die volgende 20 jaar. Die sonplaas sal die groep se koolstofspoor na beraming met 160 000 kg per jaar verminder.

Sedert dit op 15 Maart vanjaar in werking getree het, werk dit volgens mnr. Louis Loubser, bemarkingsdirekteur van Fair Cape Dairies en een van die vyf Loubser-broers wat aan die stuur van die Fair Cape groep staan, “soos ’n droom”.

Die sonplaas is vandag amptelik deur mnr. Alan Winde, die Wes-Kaapse premier, by die groep se perseel in Durbanville geopen en vorm deel van die maatskappy se oogmerk om sy impak op die omgewing sover moontlik te beperk. Die groep het onder meer in 2018 sonpanele op sy melkery se dak geïnstalleer en het ook stappe gedoen om sy verpakking omgewingsvriendeliker te maak.

Daar word beoog om die sonplaas deur ’n tweede en derde fase uit te brei soos finansiering beskikbaar word.

fair cape alan winde melt loubser
Mnr. Alan Winde, Wes-Kaapse Premier, en mnr. Melt Loubser, uitvoerende hoof van die Fair Cape-groep, "skakel" oor na sonkrag.

Mnr. Melt Loubser, uitvoerende hoof van die Fair Cape-groep, het tydens die opening gesê die sonplaas is onder meer geïnspireer deur sir David Attenborough se voorstel in sy dokumentêre film A Life On Our Planet dat die vervanging van fossielbrandstowwe met hernubare kragbronne een van die maniere is hoe die mens die vernietiging van die planeet se natuurlike hulpbronne kan stuit.

“Fair Cape het besluit dat ons as ’n maatskappy iets moet doen, nie net om finansiële redes nie, maar ter wille van toekomstige generasies.”

Winde het gesê Fair Cape se verbintenis daartoe om die die regte ding te doen, soos sy slagspreuk lui, is in ooreenstemming met dié van die Wes-Kaapse regering.

Volgens Winde word sonkrag al hoe meer benut omdat dit ’n “slim opsie” is, maar moet hernubare krag nóg meer benut word ter wille van besighede in die Wes-Kaap en landwyd wat gebuk gaan onder verliese tydens beurtkrag.