Hy het gesê hy was onlangs in die Wes-Kaap en daar word meestal bogemiddelde oeste verwag. “Dit lyk regtig mooi daar al is daar kommer dat daar volgende jaar dalk te veel gars gaan wees. Daar sal dalk bietjie verskuiwings in hektare wees.”

Hy was ook pas in die Noord-Kaap langs die Oranjerivier in die besproeiingsgebied en daar was baie uitstekende koring. Die eerste boere het ook al begin mielies plant en hulle verwag ’n uitsonderlike jaar.

Hy het gesê as die reënval in die somergebied normaal of bonormaal gaan wees soos voorspel word, sien hy uit na ’n baie goeie graanjaar. “Ek meen ook ons het dit werklik nodig, want mens vang nie net in een jaar weer op as jy deur ’n droogte kom nie.

“Ek moet nou ongelukkig ’n ‘maar’ byvoeg. Te midde van die gunstige landbou-omstandighede gaan dit nie goed met boere op ’n emosionele vlak nie. Gebeure soos dié op Senekal veroorsaak dat ons dalk die mooi landbou-omstandighede miskyk. Dit is ook nie net vir boere emosioneel ’n moeilike tyd nie, maar vir almal in die land. Ek dink nie ons moet onderskat wat op die geestesterrein aangaan nie. Ek dink ons moet saam bid en saamstaan om te kyk hoe vat ons dinge vorentoe.

“My boodskap aan die boere is, hou jou kop af, kyk na jou inkomste en uitgawes en maak seker jou opbrengste is wat dit kan wees sodat die bank nie jou plaas kom vat, terwyl jy die televisie dophou oor wat aangaan met grondhervorming en ander kwessies nie.”

Die nasionale opbrengskompetisie het vanjaar begin nadat saadmaatskappye en Graan SA saamgewerk het om ’n eenvormige standaard en kriteria vir beoordeling daar te stel sodat opbrengskompetisies in die onderskeie streke kon uitloop op ’n nasionale kompetisie. 

Die wenners in die onderskeie afdelings vir mielies was:

KwaZulu-Natalstreek: mnr. Tyson Zunckel, Bergville, 13,80 t/ha (Pioneer P1197).

Oostelike Hoëveld: mnr. Johann Pistorius, Standerton, 15,26 t/ha (Pannar PAN 3A-124).

Oos-Vrystaat: mnr. Jaco Breytenbach, Fouriesburg, 13,63 t/ha (Bayer DKC 72-74R).

Sentraal-streek: mnr. Danie Bester, Balfour, 14,11 t/ha (Bayer DKC 74-26R).

Noordwes: mnr. Danie le Roux, Schweizer-Reneke, 13,79 t/ha (Bayer DKC 75-65 BR).

Watertafelstreek: mnr. Hennie Roos, Hoopstad, 13,13 t/ha (Bayer DKC 75-65 BR).

Besproeiing: mnr. Christo Cronjé, Vrede, 23,47 t/ha (Bayer DKC 64-54 BR).Die wenners in die onderskeie afdelings vir sojabone was:

KwaZulu-Natalstreek: mnr. Clinton Frey, Winterton, 5,12 t/ha (Pioneer P64T39R).

Oostelike Hoëveld: mnr. Gareth Allen, Middelburg, 3,60 t/ha (Pioneer P48T48R).

Oos-Vrystaat: mnr. Josef van Eeden, Bethlehem, 3,65 t/ha (Pioneer P64T39R).

Sentraal-streek: mnr. Japie Breedt, Bapsfontein, 5,29 t/ha (Agriseed RA 560 RR).

Noordwes: mnr. Wayne Preece, Coligny, 4,65 t/ha (Pioneer P711T74R).

Watertafelstreek: mnre. Willie Dreyer en IG Venter, 5,28 t/ha (Pannar PAN 1644R).

Besproeiing: mnr. Tommie Scholtz, Bergville, 5,28 t/ha (Pioneer P64T39R).

Die wenner in die afdeling vir sonneblom was mnr. Johan Meyer van Hartbeesfontein met ’n opbrengs van 4,44 t/ha (Agricol AGSUN 8251).

Die wenner in die afdeling vir kleinskaalse boere was mnr. Gardner Khulekane Khumalo van Madadeni, Newcastle, met ’n mielie-opbrengs van 8,01 t/ha (Bayer DKC 68-58 BR).