Terselfdertyd heers droogtetoestande oor veral die binneland van die Oos-Kaap en aangrensende dele van die Wes-Kaap, asook dele van die Noord-Kaap.

Baie somergraanboere ervaar baie nat toestande. Die groot vraag is of die nat toestande gaan voortduur en of die huidige oormaat reën net tydelik is, dat droër toestande binnekort ervaar gaan word.

Vooruitsigte lyk baie gunstig vir verdere swaar reën in die laaste deel van Januarie en die eerste deel van Februarie oor bykans die hele somerreëngebied van Upington in die weste tot verby Ermelo in die Ooste, sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Die La Niña-stelsel wat van verlede jaar af heers, het nou sy hoogtepunt bereik en weermodelle dui aan dat dit klimaatspatrone in die volgende paar maande gaan oorheers.

Van den Berg sê as die huidige seisoen met soortgelyke vorige La Niña-seisoene vergelyk word, soos die seisoene van 1973-’74, 1974-’75, 1975-’76, 1988-’89 en 2010-’11, is verdere swaar reën oor veral die sentrale dele van die land in Februarie moontlik. “Tydens die afgelope ses redelike sterk La Niña-seisoene het daar oor byvoorbeeld Reitz in die Oos-Vrystaat meer as 120 mm in Februarie geval nadat swaar reën ook in Januarie voorgekom het.”

In produksiegebiede verder oos, soos in Bethal, was die neiging egter dat Februarie gedurende La Niña-seisoene minder reënval ervaar het, hoewel daar steeds neerslae was. “In die westelike produksiegebiede soos Lichtenburg het daar van Januarie tot April ver bogemiddelde reënval voorgekom in bykans al die matige tot sterk La Niña-seisoene,” sê Van den Berg.

Aanbevelings vir somergraanboere

Van den Berg sê in die lig van die reeds baie nat toestande met versadige grond, asook die verdere verwagting vir reën in veral die laaste deel van Januarie, sal dit raadsaam wees om kunsmistoedienings te verhoog. Al is die tweede deel van Februarie dalk droër (let wel, lang droë tydperke word nie verwag nie) oor die verre oostelike dele, is daar voldoende vog om die oes baie ver te neem. Die aanbeveling is dus om oor veral die Vrystaat en Noordwes – waar tot April heelwat meer reën verwag word – aansienlik meer kunsmis toe te dien indien moontlik.

Wat betref die hitte- of groei-eenhede en die intreedatum vir ryp is die die waarskynlikste scenario dat omdat daar oor die algemeen heelwat vroeër geplant as in die afgelope paar seisoene en hoewel minder hitte-eenhede verwag word, behoort die langer groeiseisoen met vroeë aanplantings die risiko vir rypskade te omseil.

Dit is ’n groot risiko om nou nog laat aanplantings te doen of om landerye waar graan swak opgekom het, nou nog te plant in veral die sentrale tot oostelike dele van die land.

Met die verdere verwagting vir reën in die laatsomer is die kans op vroeë ryp skraal as gevolg van die buffer-effek teen hitte-uitstraling terug na die atmosfeer met die hoë lugvog. In die Vrystaat het die eerste ryp op plekke soos Bethlehem en Bothaville met die vorige sterk La Niña-stelsel van die 2010’-11-seisoen eers teen einde April voorgekom.

“Interessant is dat daar nogal ’n redelike sterk positiewe verband is tussen reënval in die laatsomer en reën in die daaropvolgende lente en vroeë somer,” sê Van den Berg. “Produksietoestande vir winterkoring in die somerreënstreke kan dus vanjaar gunstig wees met baie opgegaarde grondvog en ’n goeie kans op reën vanaf Oktober.”