Met sy aankoms laatmiddag by Ficksburg is Mashinini in sy ampsmotor na die vergadering in die saal van die Hammonia-boerevereniging geneem. Benewens ’n Nyala-voertuig waarin die LUR die pad sou aandurf, het ’n konvooi van agt polisievoertuie sy ampsmotor vergesel.

“Die pad, die R67, is ’n voorbeeld van die swakste instandhouding in die streek en dien as alternatiewe roete tussen Ficksburg en Senekal,” sê mnr. Friedl von Maltitz, woordvoerder van die burgerlike gemeenskapsforum Sechaba sa Ficksburg.

Dié forum het ’n dag lank alle toegangspaaie na die dorp, asook die R26, die hoofroete deur die Oos-Vrystaat, versper omdat die gemeenskap se vertoë aan die provinsiale regering oor die haglike toestand van paaie op dowe ore geval het.

Die gemeenskapsforum is nou versigtig optimisties dat die herstelwerk aan paaie in die Oos-Vrystaat sal vorder ná die vergadering met die Vrystaatse regering.

Von Maltitz sê Mashinini se besoek het gevolg nadat die bestuur van die forum twee stelle van sy departement se afgevaardigdes weggewys het.

Die sowat twee uur lange vergadering is deur die forum se bestuur, mnre. Morgan Barrett, David Tamae (Hammonia) en Isaac Khuto (voorsitter van die Imperani-landbouvereniging), bygewoon, asook enkele gemeenskapslede.

ficksburg, paaie
Lede van die burgerlike gemeenskapsforum Sechaba sa Ficksburg vergader met mnr. Sam Mashinini, die LUR vir paaie in die Vrystaat. Foto: Friedl von Maltitz

Die vergadering het besluit dat Barrett namens die forum en saam met die streek se padingenieur sal toesien dat die toegekende tenders vir herstelwerk wel op ’n hoë standaard nagekom sal word en die vordering monitor. Die forum se bestuur sal ook insae in die projek se besteding verkry.

Volgens Von Maltitz sal die herstel van paaie onmiddelik begin nadat die beplanning regstreeks ná die vergadering begin is.

“Mashinini het aangedui dat koppe in sy departement sal rol as die vordering nie na wens is nie,” sê Von Maltitz. “Ons is ook tevrede dat die forum ’n mate van beheer verkry het oor die prioritisering van die herstelwerk aan sekere grondpaaie.”

Die forum het aan Mashinini uitgewys dat dorpenaars in staat was om herstelwerk teen ’n tempo van sowat 19 km per week te vermag, teenoor die provinsie se kontrakteurs wat nie eens 1 km se werk per week kon baasraak nie.

Von Maltitz het namens die forum verontriefde motoriste by die versperring om verskoning gevra. “Hulle is darem met ’n worsbroodjie vir middagete en later skaapvleis op die spit vergoed,” sê hy.