Iewers sou jy al gelees of gehoor het van die Afrikaanse boere en hul gesinne wat pas ná die Anglo-Boereoorlog sak en pak Argentinië toe getrek het. Die wel en wee van hul nasate, die tweede en derde geslagte, is nou op die silwerdoek te sien!

’n Rolprent, The Boers at the End of the World (Die Boere op die Aardsdrempel), oor dié unieke gemeenskap in die suide van Argentinië, is pas voltooi en in Kaapstad aan ’n groep gaste vertoon om 'n voorsmakie daarvan te kry. Die première is op 28 Augustus tydens die Silwerskermfees in die Bay Hotel in Kampsbaai, Kaapstad.

Wat 'n rolprent, wat 'n belewenis!

Die rolprentvervaardiger, Kelly Scott, en die regisseur, Richard Finn Gregory, het na die nasate van dié Afrikaanse immigrante gaan soek, met hulle gesels en hul boerderye en hul omstandighede verfilm. Toe is dié aangrypende rolprent oor “ons” mense in die ongenaakbare Patagonië, in daardie afgeleë deel van Argentinië, aanmekaar gesit.

Die rolprent fokus op die nasate van die Afrikaners wat soontoe getrek het. Van dié boere praat met heimwee van hul heimat, Suid-Afrika, hoewel hulle nog nooit hier was nie. Vanne, soos Schlebusch, Van der Merwe, Blackie, Venter, Norval en Kruger, duik op in dié gesprekke met die boere.

Net sowat 40 van die nasate kan nog redelik of ’n bietjie Afrikaans praat, maar dis asof 'n onsigbare band bestaan met die geboorteland van hul oorlede ouers, waarna hulle as “Afrika” verwys.

Van dié tweede geslag Afrikaanse Argentyne boer met wolskape, ry perd en moet probleemdiere uitoorlê wat hul skape vang. Dié gesinne bak steeds melktert, hou boeresport-byeenkomste en is vleiseters, sommer met die hele skaap op die spit, in die Asado-styl. Hulle is bekommerd oor hul kinders wat Spaans praat en nie meer wil boer nie, maar eerder dokters en ingenieurs word. En hulle sing nog Sarie Marais.

Die rolprent se twee toevallige “hoofrolspelers” is Ty Dickason en Jan Schlebusch, twee boere wat al ver in die jare aanstap. Ty is 'n regte platjie en kom kort-kort met die oulikste sêgoed in Afrikaans vorendag, wat die Kaapstadse yuppie-gehoor laat skater het. Jan is weer 'n man wat sy woorde oordink en meer ernstig is. Albei is bekommerd oor wat met hul plase gaan gebeur as hulle eendag nie meer daar is nie.

Dié twee praat nog perfekte Afrikaans praat, al het hulle nog nooit “Afrika” se water geproe, nog nooit in sy veld kon stap of sy verruklike sonsondergange gesien nie.

Die ekonomie van boerdery het van die boere daar ingehaal: Dis nie meer só lonend om daar te boer as voorheen nie, en as die rolprentganger die boere se hande sien, weet jy dis manne wat hárd werk. Dis manne wat nog te perd ry as deel van hul dagtaak, ver verwyderd van Suid-Afrika se bakkie-boere.

Die rolprentmense het geen moeite ontsien nie en selfs drie professors in linguistiek van die Universiteit van Michigan by die maak van die rolprent betrek, onder leiding van prof. Andries Coetzee. (Ja, nóg 'n Afrikaanse akademikus wat elders heen is.) En ná dié proffies se gedetailleerde studie van die Afrikaans wat van die ouer lede van die gemeenskap nog praat, sê Coetzee: Dis ongelooflik: Die Afrikaans is nog redelik perfek, behalwe vir 'n uitspraak wat hier en daar effe verander het.

Dan kom die wending in die rolprent, en almal in die teater pluk vervaard die sakdoeke uit. Jy kan dit verhelp nie. (Maar jy sal die rolprent self moet sien . . .)

Volgens regisseur Gregory sal die rolprent hopelik deur M-Net vertoon word.

** Ná die fliek het die volgende tot my deurgedring: Afrikaans sal nie uitsterf nie. Tweedens, as jy dit dalk oorweeg om te emigreer, kyk eers na dié fliek. Jou wortels is waarskynlik só diep in hierdie land ingebed dat jy jou dit nie eens naastenby kan indink nie.

Volg die fliek op:

Youtube: https://youtu.be/_ZN5Bsfn1xA

Facebook: www.facebook.com/boersattheendoftheworld

Twitter: https://twitter.com/BoersFilm

Klik op die foto's hieronder om dit te vergroot.

Mee. Graciela Aguila, Elisabet Ríos de Venter en Norma Rivera Blackie bak Afrikaanse melktert vir ‘n byeenkoms.. Foto: © Richard Finn Gregory, GOOD WORK

Me. Enriqueta van der Merwe met haar trekklavier, 'n trotse besitting. Foto: © Richard Finn Gregory, GOOD WORK

Mnr. Osvaldo ‘Koor’ Dickason, een van die geharde boere van Patagonië. Foto: © Richard Finn Gregory, GOOD WORK

Proff. Andries Coetzee, Nicholas Henriksen en Lorenzo Garcia-Amaya, linguïste van die Universiteit van Michigan, bestudeer die klankbane van die Afrikaans wat nog gepraat word aan huis van me. Hetta Norval. Foto: © Richard Finn Gregory, GOOD WORK