Mnr. Paul Makube, senior landbou-ekonoom van FNB, het by ’n vooruitskouingsgeleentheid van die bank gesê dié stygings sal boere se produksiekoste natuurlik ook raak.

Dit kan egter moeilik vir kleinhandelaars wees om hoër produksiekoste aan verbruikers deur te gee, omdat verbruikers in swak ekonomiese omstandighede weerstand bied teen hoër pryse.

Die verwagte gedempte voedselinflasie kan wel daartoe bydra dat die rentekoers dieselfde bly, of dalk selfs verlaag word.

Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP) sal na verwagting vanjaar swak bly groei, terwyl die landbou-BBP in die tweede helfte van vanjaar effens kan herstel en aanstaande jaar verder veld kan wen. 

Belegging

Beleidsonsekerheid sal egter na verwagting steeds belegging in die landbou belemmer.

Mnr. Dawie Maree, hoof van landbou-inligting en -bemarking by FNB, het gesê daar is ’n paar kwessies wat aandag moet kry om vertroue in die sektor te herstel en tot belegging en groei te lei.

Onsekerheid oor grondhervorming moet uit die weg geruim word, asook onsekerheid en beperkinge rakende water, wat veral vir besproeiingsboere baie belangrik is. In sommige gebiede is daar infrastruktuurprobleme, veral in die voormalige tuislande. Nie-tariefversperrings vir uitvoer moet aandag kry, omdat dit belegging in uitvoergewasse belemmer.

Makuba het gesê die uitvoer van boomgewasse kan wel vanjaar voordeel uit ’n swakker rand trek.

Verskillende landbousubsektore sal na verwagting verskillend presteer.

Die groentebedryf sal na verwagting genoeg voorraad hê terwyl die lewendehawebedryf ’n hupstoot kan kry danksy ’n hervatting van uitvoer ná die bek-en-klouseeruitbreking. “Ons verwag ’n matige herstel in lewendehawepryse, spesifiek vir beeskarkasse en speenkalwers.”

Wat graan betref, is die voorraad danksy oordragvoorraad genoeg, maar ryp is ’n bekommernis vir mielies wat laat geplant is, het Makube gesê.

As daar van September tot Desember vanjaar nie goeie reën val nie, kan die 2019-’20-somergraanseisoen ’n moeilike een wees. Dan kan dit nodig wees om baie graan in te voer. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.