Klante kon ’n skenking maak deur gedurende Mei spesifieke produkte van die veldtog se vennote te koop. Food Lover’s Market het dan R0,85 van die produk se prys gebruik om ’n maaltyd te verskaf aan iemand wat dit nodig het. Food Lover’s Market het ook 1% van sy totale omset op 28 Mei aan die veldtog geskenk.

Die doelwit was om die geld wat deur die veldtog ingesamel word, te gebruik om ’n miljoen maaltye aan behoeftiges te voorsien en die struikelblokke van arm mense in Suid-Afrika in die kollig te plaas. Food Lover’s Market het daarin geslaag om genoeg geld vir 1 030 888 maaltye in te samel.

Hunger Month is in 2017 vir die eerste keer aangebied. Gedurende die vier jaar wat die veldtog aangebied word, is genoeg geld vir 2 964 734 maaltye ingesamel.Tru-Cape, ZZ2, Simpl Juice en Westfalia was vanjaar Food Lover’s se vennote in die veldtog.

Me. Kate Marais van Food Lover’s Market sê die veldtog is, danksy die vrygewigheid van hul klante en hierdie vennote, ’n groot sukses. “Dit is vir ons verblydend dat ander handelaars nou ook soortgelyke veldtogte begin het om maaltye vir behoeftige mense in te samel.”

Mnr. Andy du Plessis, besturende direkteur van FoodForward SA, sê dit is wonderlik om te sien hoe Food Lover’s Market se veldtog sedert 2017 gegroei en vanjaar sy doelwit om 1 miljoen maaltye aan behoeftige mense te verskaf, bereik het.

Mnr. Roelf Pienaar, besturende direkteur van Tru-Cape, sê hoewel Tru-Cape die veldtog reeds ’n paar jaar ondersteun, was die behoefte aan voedsel vanjaar selfs groter weens die Covid-19-pandemie. “Die mense van Tru-Cape is bly dat ons ’n bydrae kon lewer om kos op mense se tafels te sit. Ons bedank ons getroue klante wat Tru-Cape-produkte by Food Lover’s-winkels koop.”