Omdat forel meer as honderd jaar terug al in Suid-Afrika gevestig is, meen die meeste kunsvlieghengelaars en forelboere dié vissoort hou geen verdere gevaar vir die land se ekostelsels in nie.

Daarom rol die forelbedryf, en veral die kunsvlieghengelgemeenskap, nou moue op om te baklei teen die besluit van me. Edna Molewa, vorige Minister van Water en Omgewingsake, om forel as indringervis te klassifiseer.

Onder Molewa het die departement besluit om forelsoorte by die Nasionale Wet op die Bestuur van Biodiversiteit (Wet 10 van 2004, Nemba) se lys van uitheemse en indringervissoorte te voeg. Die Federasie van Kunsvlieghengelaars van SA (Fosaf) vrees dit sal forelboerdery en die gebruiklike vrylating van dié vis in bestaande forelwaters ’n strafbare oortreding maak.

Fosaf het ’n aansoek voor die Gautengse Hooggeregshof gebring waarin hy die wettigheid van die minister se voorneme bevraagteken. Die organisasie sê die departement het nie die regte stappe gevolg soos die wet vereis nie. Deur nie genoegsame inligting beskikbaar te stel nie, ontneem die staat Suid-Afrikaners van hul reg tot betekenisvolle deelname aan die wetgewende proses.

Selfs nadat die aansoek gebring is, het Fosaf se gedugte regspan briewe aan die departement gestuur waarin hy versoek dat van die minister se planne afstand gedoen word. Die organisasie neem ook aan vergaderings en gesprekke oor die kwessie met die departement deel, maar behou sy reg om met die hofaansoek voort te gaan as die departement nie bes gee nie.

Die departement het aangedui hy gaan Fosaf se aansoek teenstaan. Mnr. Gerrie van der Merwe, eienaar van Lunsklip-visserye en voorsitter van Trout SA, meen die staat verreken nie die potensiële gevolge wat die voorgestelde wetgewing en regulasies vir kunsvlieghengel, forelboerdery en verskeie plattelandse dorpe kan inhou nie.

Mnr. Johannes Rogophala en sy vrou, Lina, is verantwoordelik vir die versorging van die Haenertsburg-forelvereniging se teelstasie by die Ebenezer-dam.
Vroue haal volwasse forel uit een van die damme by Lunsklip-visserye. Boerderye soos Lunsklip lewer saam nagenoeg 1 700 ton forel vir die tafel.

Baie werkgeleenthede

Voorlopige navorsing wys die verkope van hengelgidse en -toerusting verdien saam omtrent R1,8 miljard per jaar. Hengelaars en die kunsvlieghengelverwante gasvryheidsbedryf het al nagenoeg R7,5 miljard in gastehuise, oorde, hotelle, hengel-sindikaat-eiendomme en restaurante belê.

Volgens Trout SA skep die forelwaardeketting sowat 13 000 werksgeleenthede in Suid-Afrika. Dit sluit mense in soos mnr. Johannes Rogophala en sy vrou, Lina, wat by die Haenertsburg-forelvereniging (HTA) se visteelstasie langs die Ebenezer-dam werk, maar nie noodwendig die duisende formele of informele werksgeleenthede laer en hoër in die waardeketting nie.

Baie Suid-Afrikaanse forelplase koop vingerlinge aan en laat hulle dan groei in klein sement- of plastiekdamme voor hulle in groter damme vir hengeldoeleindes vrygelaat word of vir die etenstafel gevang word
Forel word in ronde damme aangehou waarvan die water deur die slim gebruik van swaartekrag voortdurend kolk omdat die vis lopende, koue water, ryk aan suurstof verkies.

verskeie damme

Die HTA met sy 350 lede is die oudste forelhengelklub in Suid-Afrika en aanvaar verantwoordelikheid vir verskeie private en munisipale damme in Limpopo se Haenertsburg-Magoebaskloof-omgewing. Johannes en Lina versorg die visse in die broeiery. “Dis ’n goeie bestaan en lekker werk om te doen,” sê Johannes.

Uit hul inkomste by die forelboerdery kon hulle nou al ’n paar skape koop en Johannes vertel opgewonde dat hy daaraan dink om ’n bees of twee aan te koop. “Ons kyk maar altyd hoe ons vorentoe kan gaan.” Al is die HTA-visteelstasie net ’n klein visboerdery, plaas die klub elke jaar 6 000 tot 10 000 forelle in sy klubwaters.

Dit sluit elf plaasdamme van verskillende groottes en vyf plekke op die Broederstroom-stelsel in waar forel aard. “Baie van daardie vis word onwettig gevang deur stropers wat saans op ons klubwaters toeslaan,” sê mnr. André Gouws, vismeester van die HTA.

“Ons voer eintlik die hele berg se mense uit ons teelstasie,” skerts hy. Forelboerdery en forelhengel het oor die laaste eeu deel van die Haenertsburg-kultuur geword en baie ondernemings op die dorp is op die toerismebedryf geskoei. Daarom sê mnr. Zamps Zamparini, voorsitter van die HTA, die organisasie se amptelike vertoë teen die indringerstatus van forel gaan oor baie meer as die hengelwaters van sy 350 lede.

“Dit gaan oor die gunstige invloed van die klub en sy lede oor die laaste 106 jaar op die omgewing, asook die verhoudinge wat tussen boere, hul werkers en die hengelgemeenskap ontstaan het. Dit gaan oor mense soos Johannes en Lina en al die mense wat in die Haenertsburg-gasvryheidsbedryf werk. Dit gaan oor ’n kultuur wat almal wat in die omgewing woon en werk op die een of ander manier verryk.”

Mnr. Jerry Areki pas naweke die motors van duisende toeriste aan Dullstroom op terwyl hulle die dorp se restaurante en winkeltjies besoek. Hy sê sonder die forel sal daar nie besoekers se motors wees om op te pas nie.
Met verloop van jare was in Suid-Afrika danksy die forelbedryf beleggings van miljarde rande in gastehuise, hotelle, restaurante en oorde.

Foreldorpe

Daar is ander dorpe waar forel selfs ’n groter rol in die gemeenskappe se maatskaplik ekonomiese samestelling speel. Die bekendste is waarskynlik Dullstroom op Mpumalanga se Hoëveld. Dullstroom is in 1883 deur mnr. Wolterus Dull gestig om ’n heenkome vir Nederlandse immigrante te skep.

Die omgewing se koel klimaat en bergagtige gras(-vlaktes) maak dit geskik vir skaap- en beesboerdery. Beesrasse, soos die Drakensberger, gedy in hierdie gebied, maar selfs veeboere hier vul hul inkomste aan deur verblyf- en hengelgeriewe op hul grond aan te bied.

Die meeste mense met belange op dié klein dorpie is dit eens dat dit waarskynlik ’n spookdorp sal word sonder forel in die baie damme, riviere en stroompies. Van der Merwe stel dit dalk die beste: “As dit nie vir forel was nie, was hierdie omgewing besaai met ’n klomp bankrot skaapboere.”

Mnr. Jerry Areki, ’n inwoner van die informele nedersetting reg langs Dullstroom, sê selfs sy inkomste is 100% op die forelbedryf geskoei. Oor naweke en op vakansiedae was hy motors in die hoofstraat en pas hulle op.

“Deur die week gaan hier niks aan nie. Party winkels maak nie eens oop nie, maar naweke is hier nie genoeg parkeerplek op die dorp vir al die motors nie.” Die dorp het deesdae ’n dubbelloopnaam: Dullstroom-Emnotweni, wat “plek van welvaart” beteken.

Areki twyfel of dit sonder die forelbedryf dié naam waardig sal wees. Van der Merwe sê ander dorpe, soos Clarens in die Oos-Vrystaat, Underberg en Himeville in die KwaZulu-Natalse Middelland, en die Oos-Kaapse dorpe Hogsback, Rhodes en Barkly-Oos is maar enkele ander voorbeelde van plattelandse ekonomieë wat swaar op forel- en kunsvlieghengel steun.

“Ons praat hier van ’n bedryf wat dié klein plekkies in staat stel om R7 miljard tot R8 miljard se kapitaalbeleggings te ondersteun. Hoekom wil ons dit vernietig deur ’n vissoort onder skoot te kry wat uit ’n bewaringsoogpunt geen bedreiging meer inhou nie?”

Mnr. Gerrie van der Merwe is die voorsitter van Trout SA, ’n liggaam wat ál die fasette van die forelbedryf verteenwoordig

Is daar ’n bedreiging?

Van der Merwe het Lunsklip-visserye in 1972 op ’n stuk grond in die berge naby Lydenburg begin. Daar was toe min beperkende regulasies. Die beleidsomgewing was bemagtigend en hy wonder waarom die staat dit nou moeilik wil maak wanneer daar soveel mense is wat regstaan om ook bemagtig te word.

Mnr. Guy Preston, adjunk-direkteur-generaal vir Omgewingsake, het vroeër aan Business Day verduidelik die departement wil bloot keer dat die forel versprei na waters waar hulle nie reeds voorkom nie. “Dit maak egter geen sin nie,” sê Van der Merwe.

Hy verwys na ’n verslag van 2014 van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye – Biodiversity Risk and Benefit Assessment for Rainbow Trout in South Africa. Luidens dié verslag is reënboogforel een van die vissoorte wat kunsmatig na die meeste plekke in die wêreld versprei is.

Dit is in meer as 90 lande vrygelaat met boerderye op elke vasteland buiten Antarktika. Tog word dit in min lande as indringervis beskou. Forelle kan net in matige tot koel klimaatstreke oorleef. Om natuurlik aan te teel moet dit toegang hê tot geskikte stroombodems in lopende water wat in die winter tot onder 15 ºC afkoel.

Luidens die 2014-verslag is dit onmoontlik om die werklike impak van forelle op Suid-Afrika te bepaal omdat geen basisopname in die 19de eeu in die riviere gedoen is voor die forel vir die eerste keer in Suid-Afrika vrygelaat is nie.

Dr. Wynand Vlok van die omgewingsmaatskappy Bio-Assets sê daar is egter enkele stroompies en riviere in Suid-Afrika waar die forel kan aard waar dit nog nie voorkom nie, selfs al is dit reeds in daardie streek gevestig.

“Daar is byvoorbeeld forel in die Sederberge, maar daar is klein stroompies daar waar die forel nog nie voorkom nie omdat dit dalk deur ’n waterval of natuurlike hindernis beperk word.” Hy meen dit is belangrik om te keer dat forelle na dié stukkies ongerepte habitat versprei.

“Daar is altyd die risiko dat iemand besluit om ’n vis in ’n emmer na ’n ander bergstroompie toe te dra en daar vry te laat.” Vlok sê die forelle bedreig ander inheem- se vissoorte. ’n Leefwyse Mnr. Dave Pirie het op ’n plaas by Haenertsburg grootgeword waar hy en sy vrou, Josie, al jare lank ’n forelhengelbestemming bedryf.

Mnr. Dave Pirie sê die foreldamme en verblyf op sy plaas by Haenertsburg het vir sy kinders se skool- en universiteitsopleiding betaal.

Hy sê in sy leeftyd het daar wel inheemse vissoorte uit die berg se stroompies verdwyn. “Ons het as kinders partykeer palings en langvinvis in die water gesien, nou nie meer nie.” Dié vissoorte het volgens hom egter in harmonie met die bruin- en reënboogforelle in die riviere geleef en eers verdwyn nadat damme, soos die Ebenezer en Dap Naudé, gebou is.

Vleikurpers het die damme se impak oorleef en is tot vandag toe saam met die forelle in die strome. Pirie is ’n erelid van die HTA en saam met Zamparini en Gouws is hy meer bekommerd oor die impak van swart- en kleinbekbaars op die Broederstroom en bolope van die Letabarivier.

“Forelle kan nie in damme aanteel nie en die HTA moet dus aanhou om nuwe vis in sy waters vry te laat. Baars teel egter in damme aan en is baie sterker en aggressiewer as forelle.”

Mnr. André Gouws van die Haenertsburg-forelver­eniging sê die hele berg­gemeenskap in die omgewing se identiteit lê in forelhengel opgesluit en dit het oor die jare ook ’n manier geword waarop mense van ander plekke en kulture deel van Haenertsburg geword het.

Dis ’n boerdery

Van der Merwe wys daarop dat forelle reeds in Suid-Afrika se riviere geswem het voor die meeste bees-, skaap- of selfs honderasse wat ons vandag ken. “Hoekom is forelle onder skoot en nie die ander vee ook nie? Akwakultuur is tog ’n boerdery, nes enige ander boerdery.”

Forelboere, soos hy, teel saam elke jaar 200 ton vis om vir die hengelbedryf in damme vry te laat. Dit sluit nie die bestemmings in wat saam sowat 800 000 vingerlinge per jaar aankoop en self grootmaak nie. Van der Merwe en sy medeforelboere lewer ook 1 700 ton vars forel vir die tafel en voer 90 miljoen bevrugte eiers uit.

Die land verdien omtrent R850 miljoen per jaar uit die verwerking, verkoop en uitvoer van forelprodukte. Fosaf sê die voorgestelde wysigings en akwakultuurwet sal mense die reg tot eienaarskap van lewende hawe en genetiese materiaal ontneem en uitlewer aan die lot van die Minister van Omgewingsake se diskresie om permitte uit te reik of te weerhou.

“Soos ons weet, laat so ’n stelsel die deur oop vir korrupsie,” waarsku Fosaf op sy webwerf. Mnr. Peter Aderne, ’n bestuurslid van Fosaf, sê hy sal nie verbaas wees as die skielike obsessie oor forelle regstreeks verband hou met die weerstand wat boere in ongerepte hooglandgebiede, soos Lakenvlei, teen steenkool- en ander mynaansoeke bied nie.

Aderne besit grond in die Lakenvlei-omgewing waar hy ’n kunsvlieghengelbestemming bedryf. Hy baklei dus nie net vir die behoud van forelle nie, maar ook teen die vernietiging van die omgewing — ironies genoeg, teen dieselfde departement.


© MessengerPeople

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.