’n Enorme storm, met haelkorrels so groot soos ’n man se hand, het Durban op Dinsdag 10 Oktober getref. Volgens mnr. Carl Gathmann, ’n groente-en-graanboer van die Greytown omgewing, was die storm beperk tot die Durban-omgewing: Ek was toevallig in Durban en die hael was soos groot soos my hand. Die reën het in vlae neergesak en die wind was baie sterk. Op die plaas (in die Middeland) was dit rustig. Daar het ’n sagte motreëntjie uitgesak sonder veel wind.

“Die aardige ding is dat dit verskriklik koud is. Dit is baie ongewoon hierdie tyd van die jaar. Dit is tans, 15:00, maar 10 °C. Hierdie weer het uit die suide gekom, terwyl ons somerdonderstorms gewoonlik uit die weste kom,” het Gathmann gesê.

Innig dankbaar vir die reën

Volgens me. Kim McLeisch, bemarker van Dairy Day in die Howick-omgewing, is dit nat en koud in Howick, maar daar is geen oorstromings, soos in die Durban-omgewing nie. “Die wind waai effens en dis vrek koud, maar ons is innig dankbaar vir die reën wat val.”

Volgens Gathmann het daar op Maandag 9 Oktober 50 mm reën oor die Middeland uitgesak. “Ons is tans in die situasie waar selfs ’n (tropiese) storm soortgelyk aan Domoina van die 1980’s sal welkom wees. Ons kan van die skade herstel, maar ons kan nie damme volmaak nie.”