Ligte neerslae kan ook volgende week en in die derde week van Julie oor die sentrale en suidelike binneland voorkom. “Sneeu is baie moontlik in die tweede en derde week van Julie oor die hooggeleë gedeeltes van die Wes-Kaap en selfs die suidelike en sentrale binneland. Baie lae nagtemperature gaan voortduur met swaar ryp oor groot gedeeltes van die binneland,” sê mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige.

Reën het sedert Vrydag wydverspreid oor groot gedeeltes van die Wes-Kaap en dele van die Noord-Kaap voorgekom. Mnr. Richard Krige, ondervoorsitter van Graan SA, sê die neerslae in die provinsie se graangebiede wat by hom aangemeld is, wissel van 6 mm tot 53 mm.

Volgens Van den Berg is sowat 50 mm in die distrik Ceres aangemeld, 30 mm by Malmesbury, 55 mm by die Paarl, 45 mm by Franschhoek en 85 mm by Jonkershoek. In die omgewing van Villiersdorp is tot 70 mm aangemeld, met 19 mm by Plettenbergbaai, 5 mm by Oudtshoorn en 3 mm by Uniondale. “Die reën oor veral die Swartland is uitstekend om produksietoestande gunstig te hou, maar daar is ietwat van ’n bekommernis van minder reënval oor die Rûens en Suid-Kaap. Dit lyk egter asof toestande later in die seisoen gaan verbeter in hierdie gebiede ten koste van die Swartland en Weskus.”

Nieuwoudtville in die Noord-Kaap het sowat 20 mm gemeet, met Springbok en Calvinia wat onderskeidelik 15 mm en 8 mm gemeet het.

“Dit is interessant dat die koue fronte van die afgelope weke baie hoog teen die Weskus die land getref het en dat die droogtegeteisterde gebiede rondom Springbok en Garies reeds meer as 50 mm reën in die afgelope paar weke gehad het. Die opvolgreën is baie belangrik hoewel temperature laag en veldherstel traag is, veral ná die baie lang droogte,” sê Van den Berg.

Hy meen Namakwaland se blommeskouspel kan vanjaar vroeg wees.

Damvlakke

Die Wes-Kaap se departement van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning sê die provinsie se damme is tans 44,4% vol teenoor 39,3% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar. Die afloop van die afgelope naweek se swaar reën sal eers in volgende week se syfers gesien kan word.

Die damme wat water aan die Stad Kaapstad verskaf, is tans 62,5% vol teenoor 52,5% verlede jaar.

Van die ander damme se statistieke is as volg:

Die Voëlvleidam is 57,6% vol teenoor 59,4% verlede jaar en 54,7% verlede week.

Die Bergriverdam is 81,2% vol teenoor 78,2% verlede jaar en 73,8% verlede week.

Die Theewaterskloofdam is 59,2% vol teenoor 44,5% verlede jaar en 55,3% verlede week.

Die Clanwilliamdam is 19,9% vol teenoor 18,9% verlede jaar en 17,9% verlede week.

Risiko’s en gevare

Volgens Van den Berg moet boere van die volgende faktore kennis neem wat in die komende weke risiko’s vir die landbou kan inhou.

•          Koue en nat toestande oor veral die westelike, suidelike en oostelike gedeeltes van die land kan ’n groot gevaar inhou vir vee en veral vir kleinvee in Julie. Die hele Julie lyk uiters ongunstig vir die skeer van vee, maar na verwagting kan Augustus warmer word met min reën.

•          Die brandseisoen is onderweg met baie brandbare materiaal wat oor groot gedeeltes van die grasveldgebiede van Suid-Afrika beskikbaar is. Gereelde frontale stelsels veroorsaak sterk winde uit ’n westelike rigting met die deurgang van frontale stelsels. Mielielande wat nie gestroop is nie, hou ’n hoë risiko in weens heelwat brandbare materiaal, veral as baie dooie onkruid en gras langs die lande voorkom. Dit is noodsaaklik dat grondeienaars brandbane moet maak en lid moet wees van ’n goed georganiseerde brandbestrydingsvereniging.