Mnr. Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê ligte reën word veral oor die Suid-Kaap verwag.

“Temperature, en veral minimum temperature, gaan skerp daal oor die suidelike en sentrale dele van die land van vandag af. Minimum temperature onder 5 °C is moontlik oor die grootste deel van die Wes-Kaap vanaf ongeveer Woensdag (5 Augustus) en temperature ver onder vriespunt gaan voorkom oor die suidelike en sentrale dele van die binneland rondom 6 en 7 Augustus.”

Hoewel reënvalvoorspellings vir die laaste week van Julie en eerste week van Augustus vir die winterreëngebied en veral die Swartland en Suidwes-Kaap teleurgestel het, lyk dit asof die vooruitsigte weer verbeter in die tweede week van Augustus. “Redelik goeie neerslae word oor die grootste deel van die Wes-Kaap, suidelike dele van die Noord-Kaap en Oos-Kaap verwag, met meer as 20 mm wat verwag word oor veral die Wes-Kaap.”

Mediumtermynvoorspellings is nog gunstig vir ligte reën oor die winterreëngebied in die tweede deel van Augustus en eerste deel van September, wat goeie nuus is vir wintergrane.

Waarskuwings

Van den Berg het die volgende waarskuwings vir boere:

•          Daar is ’n moontlikheid van ligte reën en baie koue toestande oor die suidelike dele van die land rondom 8 tot 10 Augustus en kleinveeboere moet die korttermynweervoorspellings dophou vir enige veranderings, sodat hulle kan seker maak dat hul diere na behore beskut is teen koue toestande.  

•          Ryp en lae temperature van onder 5 °C is moontlik tot ten minste middel September oor die sentrale tot suidelike binneland en somergraan moet nie vinnig aangeplant word nie.