In Mei is ’n boer by Worcester skuldig bevind daaraan dat hy fynbos op sy plaas uitgeroei het, en is hy met groot geld beboet. Onlangs is ’n boer op Bredasdorp daarvan aangekla dat hy bykans 90 ha Oosterse Rûens-renosterveld van sy plaas verwyder het nadat lugfoto’s van sy plaas deur die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming geneem is.

Kragtens die Wet op Nasionale Omgewingsbestuur (Wet op 107 van 1998) word ’n bemagtigingspermit vir die uithaal van fynbos benodig. Luidens ’n persverklaring van die Sentrum vir Omgewingsregte (CER) kan iemand wat fynbos sonder ’n permit verwyder, ’n boete van tot R10 miljoen of tronkstraf van tot 10 jaar opgelê word.

Onkunde nie meer 'n verskoning nie

Die CER sê onkunde is nie meer ’n verskoning om fynbos uit te roei nie omdat inigting oor fynbos asook biodiversiteitskaarte gratis op die internet en by organisasies soos CapeNature beskikbaar is. Die organisasie sê ook dat tegnologie dit deesdae maklik maak vir owerhede om mense vas te trek wat vroeër met fynbos-ontbossing weggekom het. Daar word ook voorspel dat die boetes vir onwettige fynbos-verwydering as gevolg hiervan meer sal raak.

Omdat fynbos inheems tot die Wes-Kaap is en ’n belangrike rol in die ekosisteem speel, is dit noodsaaklik om te behou. Ten spyte daarvan is ’n groot deel van die fynbos-bevolking reeds as bedreig aangemeld. Sommige fynbos-ekosisteme kan nie weer groei nadat uitgeroei is nie, terwyl ander dekades se rehabilitasie nodig het om weer te groei.

Die CER sê ook dat boere moet besef dat die uitroei van fynbos teenproduktief is vir volhoubare voedselproduksie omdat inheemse plantegroei, soos fynbos, dikwels die gehalte van grond en water verbeter en omgewingsrampe, soos vloede en veldbrande, goed absorbeer.