Mnr. Charl du Plessis van Laingsburg vertel die 20 mm tot 40 mm reën wat in die Klein-Roggeveld en Moordenaarskaroo geval het, was genoeg om die Buffelsrivier te laat afkom. Hy sê Merweville het ook die afgelope paar dae goeie reënval geniet. “Niemand het teenspoed met die reën gehad nie en daar was nog geen berigte van skade nie.”

Hy hoop dié reën word later vanjaar met goeie winterreën opgevolg. “Dan sal die veld en gras kan herstel en die vestiging van dekgewasse kan plaasvind.”

Me. Jeanne Boshoff van Agri Wes-Kaap sê van die organisasie se lede het reënskade aangemeld. By Riviersonderend het spoelskade by mielie-, soja- en lusernlande voorgekom, gronddamme loop oor of het gebreek, lamkampe het weggespoel, en ooie en lammers het gevrek. Volgens sommige boere in hierdie gebied het in die afgelope dae 230 mm reën geval.

Sy sê boere by Lutzville het skade aan tamatieplantjies aangemeld, terwyl boere by Leipoldtville laat weet het hael het hul rooibos erg verniel. Die meeste jong teeplante is glo weggeslaan.

Mnr. Joseph Steyn van Prins Albert sê dele van dié distrik wat omtrent nooit reën kry nie, het die afgelope paar dae 36 mm tot 50 mm reën gehad het. “ ’n Mens kan nie glo wat die veld doen wanneer dit reën kry nie. Jy kan duidelik sien daar waar die water opdam. Ons het gehoop dat die reën vroeër sou kom. Ons het vyf of ses jaar laas reën vir ons gras gekry.”

Verskeie ander dorpe in die Wes-Kaap het ook goeie neerslae gehad. Volgens die Suid-Afrikaanse Weerdiens het 33 mm by Porterville geval. Dr. Johann Strauss, wetenskaplike van die direktoraat plantwetenskappe van die Wes-Kaapse departement van landbou op Elsenburg, sê meer as 200 mm reën het by die Tygerhoek-proefplaas geval. 

Overberg

Verskeie dorpe in die Overberg het goeie en broodnodige reënval gehad. Volgens Sentraal-Suid Koöperasie het Swellendam en Riversdal onderskeidelik 42 mm en 48 mm reën gehad, terwyl Heidelberg 58 mm en Ashton 21 mm reën gehad het. 

Mnr. Johan Lusse, graandienstebestuurder van Overberg Agri, sê reënval in die gebied het gewissel van 40 mm tot 400 mm in sommige gebiede. “Reën is vir ons altyd welkom. Daar is boere wat skade gely het, onder meer by Riviersonderend. Op plekke het lande verspoel en sommige boere het vee verloor weens oorstromings, maar oor die algemeen is die reënval gunstig ervaar. Ek sê altyd dit kan eerder te veel reën as te min.”

Volgens hom het die aanpassing van boere se grondbewerkingspraktyke daartoe bygedra dat die reën minder spoelskade veroorsaak het. Hy vertel boere in die gebied bewerk hul grond minder, wat daartoe lei dat dit meer vog behou en die kanse dat dit gaan verspoel kleiner word.

Hy sê die goeie reënval sal veral bydra tot die ondergrondse vogvlakke wat veral nou belangrik vir veeboere in die gebied is. “Ons planttyd vir voer begin oor twee weke en sommige boere het reeds begin plant. Grondvog is veral belangrik omdat ons baie droëlandbeweiding, hoofsaaklik lusern, in die gebied het en dit gaan baie baat vind by die goeie reënval.”

Damvlakke

Die kurkdroë Gouritzrivier-opvanggebied in die Karoo het ook goeie reën gekry, wat ’n styging in damvlakke tot gevolg gehad het. Sowat 13 mm reën het die afgelope week in die gebied geval. Damvlakke in die gebied staan nou op 19,3%. Dit sluit die Gamkadam buite Beaufort-Wes in wat ná twee jaar sonder water nou 9,4% vol is.

Damme in die Wes-Kaap was op 11 Maart gemiddeld 39,8% vol (vergeleke met 19,5% in die ooreenstemmende tyd verlede jaar), maar daar word verwag dat damvlakke danksy die reën verder sal styg.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.