Hulle kan nou 40% van hul toegewysde waterkwota kry, pleks van die 20% wat einde Augustus aangekondig is.

Dit volg ná samesprekings tussen die Departement van Water en Sanitasie, die Gamtoos-besproeiingsraad en die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit vroeër vandeesweek.

Boere was hoopvol dat goeie reën in September, wat die damvlak van 7% tot die huidige 54% laat styg het, daartoe sou lei dat die departement die waterbeperking sou verlig. Die gesamentlike vlak van die damme in die Algoa-waterstelsel staan ook op 54%. Die departement het egter die watertoekenning verder ingeperk tot net 20% van die gewone kwota.

Die Gamtoos-besproeiingsraad sê in ’n verklaring hoewel die raad en boere dankbaar is vir die marginale verligting, meen hy die departement kon hulle verder tegemoet gekom het.

“Daar is meer water beskikbaar. Die toewysings kon tot 60% verhoog gewees het. Maar ons is dankbaar dat die departement, veral sy streeksverteenwoordigers, geveg het om die toewysing tot 40% gelig te kry,” sê mnr. Pierre Joubert, uitvoerende hoof van die besproeiingsraad.

Tweehonderd boere besproei uit die dam.

“As die Algoastelsel 65% bereik, sal alle beperkings op besproeiing opgehef word, soos wat die staatsregulasies stipuleer.”

Mnr. Tertius Meyer, voorsitter van die besproeiingsraad en self ’n boer in die vallei, stem saam dat die departement meer tegemoetkomend kon gewees het.

“In Oktober 2017 was die Kougadam op 12,4% van sy volle houvermoë, en boere is 40% (van hul gewone toewysing) toegelaat. Vandag staan die dam op meer as 50%, tog kry hulle dieselfde kwota. Dit maak eenvoudig nie sin nie,” sê hy.

Ekonomiese gevolge

Me. Reinette Colesky, die raad se finansiële- en menslikehulpbronbestuurder, sê die styging, hoe marginaal ook al, is nietemin welkom.

“Boere wat die Kougastelsel gebruik, was onder erge stres weens die uiters lae kwotas. Dit sal ’n klein verskil maak, en ons kan almal ’n bietjie rustiger asemhaal.”

Mnr. Grewar Oosthuizen, Eerste Nasionale Bank se landboubestuurder vir die weste van die Oos-Kaap, sê die verligting van die beperkings sal boere in ’n beter posisie plaas om gewasse te plant en meer seisoenswerkers in diens te neem tydens die oestyd.

“ ’n Toewysing van 40% is meer in ooreenstemming met die hoeveelheid water wat verlede jaar toegewys is. Boere sal hul grond beter kan bestuur, hoewel die toekoms steeds afhang van hoeveel reën ons in die volgende paar maande kry.”

Oosthuizen sê die grootste domino-effek van die waterbeperkings kan op seisoenwerkers en sukkelende verbruikers wees.

“Die eerste ding wat gebeur as ’n droogte toeslaan, is dat boere besnoei op groenteproduksie, wat daartoe lei dat produkte uit ander provinsies ‘ingevoer’ word, teen ’n groter koste. Dit het ook ’n reuse-impak op seisoenwerkers, met baie broodwinners wat nie werk kry nie.

“Enige waterbeperkings het ’n nadelige maatskaplik-ekonomiese impak op veral seisoenwerkers weens die kleiner oeste. Teen die huidige toewysing van net 40% is dié impak beduidend.

“Nietemin, selfs al besluit net sommige boere om weer kontantgewasse te begin plant, sal seisoenwerkers werk vind. Met ’n kleiner noodsaaklikheid om produkte ‘in te voer’, kan pryse selfs daal.”

Oosthuizen sê banke is bewus van die risiko’s van seisoenale droogtes en help waar ook al moontlik.

“Droogtes is deel van die normale risiko’s. Hoewel dit natuurlik verskil van kliënt tot kliënt, kan die verligting van die waterbeperkings dit vir boere makliker maak om toegang tot finansiering te kry,” sê hy.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.