Dit is nie seker dat ’n opbergingspunt in die Swartland beskikbaar sal wees vir vanjaar se oes nie.

Mnr. Josh Hammann, direkteur van landbou-ontwikkeling in Afrika by ABInBev, sê die maatskappy kon nie oor die kontrakvoorwaardes ooreenkom met Afgri, wat van 2017 tot 2020 as kontrakfasiliteerder en opberger van moutgars namens ABInBev in die Swartland opgetree het nie.

Vanweë ’n vertroulikheidsooreenkoms mag die besonderhede van die onderhandelinge nie bekend gemaak word nie.

Risiko en onsekerheid

Al bly ABInBev se mandaat om vanjaar 20 000 ton gars van boere in die Swartland te koop, onveranderd, sê boere dat die risiko en onsekerheid sonder ’n plaaslike opberger te hoog is.

Mnr. Gert Claassen van Claassen Boerdery by Malmesbury sê dis ’n “helse hoë risiko” om ’n gewas soos gars, wat baie vernuf verg, te plant sonder om te weet waar dit gelewer kan word.

Gars pas uitstekend by sy wisselboustelsel met koring en kanola in. Hy sê al sou ’n opberger vir die Swartland voor middel April gevind word, is dit te laat. “Nou speel ons op ‘as’. Dis soos roulette: Land die balletjie op rooi of land hy op swart? Ons het genoeg probleme en risiko’s in boerdery om nog dit ook te hanteer.”

Totdat die garskoper met ’n ander plan vorendag kom, sal Swartlandse boere wat wil gars aanplant, hulle vanjaar dalk moet voorberei om hul gars op Caledon te lewer, sê mnr. Koos Blanckenberg van die plaas Klipheuwel by Philadelphia.

Die kwessie beklemtoon volgens hom hoe belangrik dit is dat alles wat die mark van ’n produk uitmaak, gereed moet wees. “Ons kan nie net produseer nie. Daar moet ’n mark wees wat werk.”

Sodra duidelikheid gekry is oor die kontraktering en opberging van gars sal boere in die Swartland weer gars plant, glo hy. “Dit was ’n noemenswaardige deel van baie ouens se graanboerdery, maar dis nie voordelig vir boere as daar so baie verander word nie.”

Protokol vir volhoubare hantering en opberging

Afgri het Swartlandse garsboere op 24 Maart ingelig dat hy nie ’n ooreenkoms rakende die voorwaardes vir die hantering en opberging van moutgars met ABInBev vir die 2021-’22-oes kon bereik nie.

Mnr. Jerry Maritz, besturende direkteur van Afgri Grain Management, sê hy wil dit onomwonde stel dat daar van Afgri se kant af nie probleme is rondom die kontraktering na die produsente nie. “Die kwessie is slegs die opbergingsrisiko. Die proses tussen Afgri en die produsent het nog altyd seepglad en deursigtig plaasgevind en ons sal dit in die toekoms ook so hanteer as die opbergingsrisiko’s aangepak kan word.”

Die moutgarsbedryf benodig egter ’n volhoubare protokol vir hantering en opberging wat die hele waardeketting bevoordeel.

“Die oogmerk moet wees om die volhoubaarheid en mededingendheid van die sektor op lang termyn te verhoog en om die risiko en potensiële finansiële verliese wat met die hantering en opberging van moutgars verband hou, te beperk. Deurlopende, geprioritiseerde navorsing moet ook geïdentifiseer word om die risiko in die voorsieningsketting te verlaag.”

Hy beveel “ten sterkste” aan dat produsente, opbergers en verwerkers van moutgars gesamentlik en binne die raamwerk en voorskrifte van die Wet op Mededinging (Wet 89 van 1998) so ’n protokol ondersteun om dié doelwitte te bereik.

Hammann wou hom nie uitlaat oor die wenslikheid van ’n opbergingsprotokol nie. Hy laat hom lei deur die vereistes vir garsopberging in die nasionale graderingsregulasies, maar sê ABInBev sal saam met die bedryf sit om oplossings te soek vir knelpunte.

Hy het op 13 April gesê boere sal “in die week” in kennis gestel word van alternatiewe reëlings. “Ek weet dis laat en die meeste boere plant al, maar ons probeer om ’n oplossing te vind vir boere wat wel wil plant.”

Hammann sê die laer bierverkope van die afgelope jaar het niks met die hele kwessie te doen nie. ABInBev bly toegewy tot die plaaslike bedryf.