Hy het op die Nampo-oesdag tydens ’n gespreksgeleentheid oor die sinvolheid van boerdery in Suid-Afrika gesê hy glo Ramaphosa kan nou dinge in die land regruk. “Nie een van ons kan 100% sekerheid hê oor wat die toekoms vir ons inhou nie. Wat ek wel al geleer het, is dat as jy die toekoms halfhartig aanpak, kan jy dit net sowel los. Daarom moet ons nie net voortploeter nie. Pak die toekoms voluit in die geloof aan. Ons moet almal met die regering van die dag saamwerk om probleme te help oorkom.”

Hy het gesê talle probleme staar boere in die gesig, soos pryse waaroor hy weinig beheer het. “Die boer is gewoonlik ’n prysnemer aan waar hy sy insette kry en ook waar hy sy opbrengs verkoop. Voeg daarby dinge soos ’n onsekere klimaat, probleme om finansiering te bekom en politieke onsekerheid weens uitlatings oor veiligheid, onteiening en vele meer dan besef jy daar is ’n legio kwessies.”

Hy het boere aangeraai om nie té emosioneel betrokke te raak by onderwerpe soos onteiening sonder vergoeding nie. “Ekself glo nie dit is ’n werklikheid nie. Die regering met Ramaphosa aan die hoof het genoeg insig om te besef wat die implikasies en verreikende gevolge sal wees as grond net afgeneem word. Eintlik is dit die banke en finansiers wat die grond besit. Die keersy is die moeilike taak om vir die opkomende mark geleenthede te skep, want om daardie mense agter te laat, is ook nie volhoubaar nie.”

Eugene Muller,
By K2 Saad se stalletjie op Nampo was van links mnre. Fanie Meiring, nasionale verkoops-en-bemarkingbestuurder, Eugene Muller, besturende direkeur, en Toks van der Linde, oud- Springbokrugbyspeler. Foto: Nico van Burick

Muller het gesê al hierdie kwessies beïnvloed die manier waarop mense dink, maar dit gaan oor aardse dinge. Dit is soos ’n aandelebeurs wat met 20% val. Dit kan gebeur, maar dan moet almal dit verwerk en weer bo uitkom.

“Vir my is die grootste kwessie om jou ingesteldheid só te kry dat dit sin maak om voluit voort te gaan en nie tou op te gooi nie. Ons kan nie net voortgaan soos in die verlede nie. Ons moet aanpas by verandering en nuwe geleenthede ontgin.”

Hy sê die Zaad-groep van maatskappye, waarvan K2 deel is, se hoofkantoor is in Suid-Afrika en alle beleggings en winste bly in die land. Die aandeelhouers is ten volle tot Suid-Afrika verbind. “Dit is nie soos van die multinasionale maatskappye waar die inkomste ’n kanaal vind na die buiteland toe nie. In K2 is daar ’n teelprogram wat spesifiek toegespits is op die Suid-Afrikaanse mark en ons groenteafdeling, Nuvance, se klem is ook op Suid-Afrika. Ons is hier om te bly.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.