Die parlement se ad hoc-komitee wat ’n wysigingswetsontwerp moet opstel om onteiening sonder vergoeding duidelik in die Grondwet aan te dui, het kenners ingeroep om hom menings te gee oor hoe die wysiging daar moet uitsien.

Ngcukaitobi meen dat ’n grondwetwysiging nie nodig is om onteiening sonder vergoeding toe te pas nie.

Adv. Wim Trengove, regskenner wat ook ’n voorlegging aan die komitee gedoen het, sê omdat die Parlement onderneem het om die wysiging wel deur te voer, het hy hom onttrek aan die debat. Hy meen ’n grondwetwysing is nie nodig vir die staat om sy grondhervormingsdoelwitte te bereik nie.

Adv. Wim Trengove,
Adv. Wim Trengove. Foto: Joylene van Wyk

Die kantoor van die grondwaardeerder-generaal sê egter dat die wysiging oor onteiening sonder vergoeding sy werk makliker sal maak. Hy stel voor dat die eiendom wat só onteien moet word, duidelik aangedui moet word.

Buigsaamheid benodig

Volgens Ngcukaitobi moet wyer as net na onteiening sonder vergoeding gekyk word om grondhervorming te laat realiseer. Hy het in sy voorlegging dit uitdruklik gestel dat die parlement misluk het om artikel 25 (5) en (6) van die Grondwet toe te pas. Dit vereis dat wetgewing ontwikkel moet word om die herverdeling van grond moontlik te maak.

“Maar ek glo nie dat ons ’n klousule kan ontwerp wat geen vergoeding die verstekposisie maak nie. Ons benodig steeds buigsaamheid rondom billike en regverdige vergoeding, want daar sal baie plekke wees wat vergoeding sal verdien.” Hy meen dat regters moet besluit of geen vergoeding betaalbaar is nie.

Dié grondaktivis het dit ook prontuit gestel dat die staat geld op grondhervorming vermors het. “Ons het R54 miljard bestee en wat het ons in ruil daarvoor? Net 7% van die kommersiële landbougrond.”

Voorstel

Ngcukaitobi het ’n voorstel by die komitee ingedien van hoe hy meen die wysiging verwoord kan word. Sy wysigingsvoorstel konsentreer op die eiendomsklousule in artikel 25 (2) (b), (3), (5) en (8) van die Grondwet. Sy voorgestelde verandering aan artikel 25 (2) (b) is: “Onderworpe aan vergoeding waarvan die bedrag en die tyd en wyse van betaling óf deur diegene wat geraak word aanvaar is óf deur ’n hof bepaal of goedgekeur is of ’n ander onafhanklike en onpartydige tribunaal of forum wat deur ’n wet van die Parlement laat ontstaan word. Gegewe dat ’n hof of so ’n tribunal of forum mag bepaal dat geen vergoeding betaalbaar is aan die eienaar van die grond in die geval van onteiening van grond in openbare belang vir die doeleindes van subafdeling (4) (a).

By (3) is aan die begin van die klousule die woorde, waar vergoeding betaalbaar is, bygevoeg.

Aan die einde van klousule (5) is ’n sin bygevoeg: Die staat moet redelike wetgewende en ander maatreëls tref om, binne sy beskikbare middele, toestande te skep wat burgers in staat stel om op ? billike grondslag toegang tot grond te verkry, met inagneming van die ekonomiese en maatskaplike omstandighede van die beoogde begunstigdes.

By klousule (8) stel Ngcukaitobi die byvoeging van die woorde voor, “insluitend die betaling van vergoeding”: Geen bepaling van hierdie artikel, insluitend die betaling van vergoeding, verhinder die staat om wetgewende en ander maatreëls te tref om grond-, water- en verbandhoudende hervorming te bewerkstellig ten einde die gevolge van rassediskriminasie van die verlede reg te stel nie, op voorwaarde dat enige afwyking van die bepalings van hierdie artikel in ooreenstemming met die bepalings van artikel 36 (1) is.

Die ad hoc-komitee sal ’n tussentydse verslag opstel rakende die voorstelle van die kenners. 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.