Die sessie het vroeër vandeesweek plaasgevind nadat belanghebbendes die komitee versoek het om ’n liggingsdifferensiaal vir sojabone in te stel. Hoofbestuurslede, personeel en lede van Graan SA het aan die sessie deelgeneem. Op Graan SA se kongres in Maart is besluit dat die organisasie en sy lede nie ’n liggingsdifferensiaal vir sojabone steun nie.

Op die sessie het die instelling van ’n liggingsdifferensiaal vir die sojabone min steun ontvang. Gevolglik is aanbeveel dat die JSE nie ’n differensiaal instel nie. “Graan SA het verduidelik dat daar baie leemtes en vrae bestaan oor die huidige gebiedsdifferensiaalstelsel en dat dit ’n wesenlike impak op die hele waardeketting het as die proses en berekeninge foutief is,” sê Graan SA in ’n verklaring. “ ’n Foutiewe berekening van 5% kan ’n geskatte impak van R200 miljoen in die waardeketting hê.”

Graan SA het versoek dat soortgelyke werksessies vir ander kommoditeite aangebied word, op die geleentheid herhaal.

Surplusse in sojaboonbedryf

Tydens die sessie het mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA, gesê dit is baie belangrik dat die markstelsel na vryemarkbeginsels streef waar vraag en aanbod bepaal in watter rigting voorrade beweeg en watter prysvlakke gerealiseer moet word.

Hy het veral verwys na die feit dat dit algemeen bekend is dat surplusse in die sojaboonbedryf voorkom, maar gesê dit is nie ’n verhandelingsinstrumentprobleem nie, maar eerder ’n probleem met die plaaslike vraag weens faktore soos die invoer van soja-oliekoek. “Wanneer surplusse in sekere gebiede ontstaan, moet die vraag en aanbod deur middel van die vryemarkstelsel die kwessie aanpak. Sodra ’n gebiedsdifferensiaal ingestel word, verdwyn die aansporing vir kapitaalbelegging om surplusse te benut, aangesien voorrade dan kunsmatig geskuif word.”

Hy het gesê die instelling van die differensiaal sal ook die geleenthede vir basisverhandeling in die fisieke mark beperk.

Boere in Suid-Afrika se westelike produksiegebiede het gesê surplusse in sekere gebiede sal outomaties deur die vrye mark opgelos sal word. Boere sal minder sojabone aanplant of daar sal in verwerkingsaanlegte belê word. Die produksiegebiede naby aan verwerkingsaanlegte sal boonop ’n liggingsvoordeel geniet en sodoende premies ontvang.

Volgens Graan SA is die besluit goeie nuus vir graanboere en die organisasie is verheug dat hy ’n gunstige bydrae kon lewer. “Die deelnemers aan die werksessie was dit eens dat baie van die probleme (in die sojaboonbedryf) aangepak kan word met die ontwikkeling van ’n doeltreffende stelsel wat basistermynkontrakte verhandel en het versoek dat die JSE tyd en energie daaraan moet bestee.”