Die polisie hou hom skynbaar doof vir talle belangegroepe se voorstelle om die uitvoer van die onlangse uitspraak deur die Grondwethof – wat meer as 400 000 vuurwapenlisensies wat nie betyds hernu is nie, nou ook ongeldig verklaar het – op ’n ordelike en praktiese manier te laat geskied.

Die Suid-Afrikaanse Wapen- en Ammunisiehandelaarsvereniging (SAAADA) sê in ’n verklaring daar is groot verwarring oor die pad vorentoe.

“Talle polisiekantore gee teenstrydige inligting. Vele partye het alternatiewe oplossings aan die polisie voorgeste;, maar ’n maand ná die Grondwethof-uitspraak het die polisie nog nie ’n duidelike nasionale beslissing in dié verband uitgereik nie,” sê die vereniging in ’n verklaring.

Meer as een belangegroep wat vuurwapeneienaars verteenwoordig, het al met polisieverteenwoordigers probeer vergader, of vergader oor teenstrydige boodskappe wat uit verskillende afdelings van die polisie kom, en dan self teenstrydige reaksies gekry.

Só het die polisie se regspan aan Vuurwapeneienaars Suid-Afrika (Gosa) onderneem om sy voorstelle vir tydelik verlengde lisensies te oorweeg, terwyl kol. Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder, gesê het dié voorstel is verwerp.

Verskillende interne polisiekennisgewings uit verskillende provinsiale kantore weerspreek mekaar ook en verskillende polisiekantore hanteer die hofbevel op verskillende maniere. Só het party polisiekantore vuurwapeneienaars die afgelope maand weggewys wanneer hulle hul onwettige vuurwapens wou inhandig. Ander polisiekantore se vuurwapenbeamptes het weer mense wie se lisensies verval het en wat nog nie hul wapens ingehandig het nie, gekontak en met inhegtenisname gedreig. 

‘Tegnies korrek’

Die SAAADA sê in sy verklaring hy erken die Grondwethof se uitspraak oor vuurwapenlisensies wat verval het. Hy sê egter ook “hoewel hierdie ’n tegnies korrekte interpretasie mag wees, beskou die vereniging die uitspraak as ’n bespotting (travesty) van die gereg wat vele verantwoordelike vuurwapeneienaars ontneem van hul eiendom en die vermoë om hulself in ons misdadige samelewing te beskerm”.

“Dit kom neer op dieselfde as om jou motor te verloor omdat die lisensie daarvan verval het. Daarom is só ’n swaar straf onvanpas as jy eenvoudig nie betyds ’n lisensie hernu het nie, dikwels met goeie rede.

“Verder het die SAAADA geen vertroue in die vermoë van die Suid-Afrikaanse Polisiediens om beslag te lê op honderdduisende vuurwapens, asook miljoene rondes ammunisie, en dit op te berg tot dit vernietig word nie. Die geskiedenis wys dat baie van dié (wapens) in die hande van misdadigers en bendes sal beland.

“Die koste en moeite wat nodig is om dié vuurwapens en ammunisie in te samel, te bestuur en op te berg, ballistiese toetse daarop uit te voer en uiteindelik te vernietig, is eenvoudig nie geregverdig nie. Die samelewing in die algemeen trek geen voordeel daaruit nie. Trouens, sulke vrugtelose en verkwistende uitgawes skaad die samelewing deur polisiehulpbronne te vermors wat aangewend behoort te word om ware misdaad te bekamp.”

Geen hulp

“Die SAAADA het besluit dat sy lede nie die polisie sal bystaan met die wegneem van vuurwapens nie, en ook nie met advies aan die polisie oor die beste manier om hiermee te werk te gaan nie.”

Die vereniging onderneem ook om geen kommunikasie van die polisie te versprei oor hoe om te werk te gaan met die inhandiging van vuurwapens nie, en hy gaan ook geen hulp aan die polisie bied ten opsigte van plek om die wapens op te berg of deur middel van mannekrag nie.

“Die SAAADA en ander verenigings het aan die polisie voorstelle gegee om dié situasie binne die voorskrifte van die Wet op die Beheer van Vuurwapens (Wet 60 van 2000) op te los sodat mense nie eenvoudig hul waardevolle eiendom verbeur nie. Die SAAADA bly gewillig om sulke opsies met die polisie te bespreek en in werking te help stel.”

Hofsake

Die Hooggeregshof in Pretoria hoor komende Dinsdag (17 Julie) ’n aansoek van Gosa aan waarin die groep vra dat die tydsbeperkinge op vuurwapenlisensies wat kragtens Wet 60 van 2000 uitgereik is, opgeskort word en op die lange duur uitgefaseer word.

Die SAAADA het verlede maand ’n ander hofsaak teen die polisie aanhangig gemaak oor probleme met hoe die polisie die registers van individuele vuurwapenbesit hanteer, en ook die skynbaar arbitrêre manier waarop sake oor vuurwapenlisensies aangehoor word. Die saak word later vanjaar aangehoor.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.