Baie moet nog gedoen word voordat die land sy bek-en-klouseervrye status terugkry, sê dr. Pieter Vervoort, voorsitter van die nasionale dieregesondheidsforum.

Hy meen die hele proses om die uitbreking van vroeër vanjaar hok te slaan verloop tot dusver vlot en hy hoop dit sal so aanhou. “Op die oomblik kan ek sê ons het die ding onder beheer.”

Vee in die beheersone word nog daagliks geïnspekteer en ingeënt. Hierdie diere moet bestuur word vir drie maande nadat hulle ingeënt is. “Dit is nie ’n maklike proses nie en ons moet verskeie faktore in ag neem in hierdie bestuursproses,” sê Vervoort.

Die siektebeheergebied is aansienlik groter as die gebied waarin die uitbreking begin het. Die diere wat in hierdie gebied ingeënt is, moet só bestuur word dat daar geen verdere risiko vir die verspreiding van die siekte is nie. Daarna kan ’n sone van inperking verklaar word. As daar nie nog diere positief toets in die groter beheergebied nie, kan die land aansoek doen om weer vry van bek-en-klouseer verklaar te word.

Vervoort waarsku egter dat dit eers heelwat later in die jaar ’n moontlikheid sal word. “Intussen maak ons seker dat ons elke dag die regte stappe doen om by hierdie einddoel uit te kom.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.