Dít was deel van mnr. Mike Mlengana, direkteur-generaal van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, se boodskap op die tweejaarlikse kongres van die landbousakekamer Agbiz wat onlangs in Port Elizabeth plaasgevind het.

Hy sê die debat wat tans gevoer word, verdeel die land. “Wanneer ons tans daaroor debatteer, is almal ontsteld, maar ons moet onthou dat mense van hul grond afgedwing is deur spesifiek wette daarvoor te skep.”

Mlengana sê egter die regte koers sal vorentoe geneem moet word. “Soos pres. Cyril Rhamaphosa in sy staatsrede genoem het, ons moenie voedselproduksie vernietig en die landbou en die ekonomie seermaak nie.”

‘Ons kan dit nie alleen doen nie’

Hy het verder ’n hand van vriendskap aan afgevaardigdes by die kongres uitgesteek: “Ek is hier om my hand namens die Regering uit te steek en as amptenaar van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye. Neem asseblief deel aan die proses om die landbousektor vorentoe te neem; ons kan dit nie alleen doen nie.”

Mlengana het gesê: “Die verhoudings tussen private maatskappye en die Regering is noodsaaklik vir inklusiewe ekonomiese groei en spesifiek voedselsekerheid. En die private sektor speel ’n belangrike rol om die pad vorentoe gelyk te maak om landbouproduksie en voedselsekerheid te verbeter.”

Volgens hom het die Regering, en spesifiek die Departement van Handel en Nywerheid, nog nie genoeg met die private sektor saamgewerk om die groei in landbou-ondernemings te verbeter nie.

Plaas meer klem op landbou-ondernemings

Mlengana meen meer klem moet op landboubesighede in Suid-Afrika geplaas word en nie slegs op primêre produksie nie, want dít is waar waarde by landbouprodukte toegevoeg word.  

Hy sê die Regering sal aanhou om in die ontwikkeling van klein ondernemings te belê en moedig groot besighede aan om dieselfde te doen. Verder erken hy dit is belangrik om aan inklusiewe verhoudings te werk en dat die ervaring en vaardighede van wit, kommersiële boere erken word.

Ernstige probleme

Volgens dr. John Purchase, uitvoerende direkteur van Agbiz, is daar tans ernstige probleme in die landbouwaardeketting omdat die verbintenis met die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye nie op standaard is nie. Dít is die gevolg van verskeie probleme binne dié departement, asook in die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming.

Mlengana is oop en eerlik oor die probleme wat die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye tans ervaar.

“Die grootste probleme is kennis en om ’n betekenisvolle impak op die sektor te hê. Daar is verskeie struikelblokke wat die landbou verhinder om te groei. Beleidsvlakke is kommerwekkend en dit lei tot ’n tekort aan vertroue in landboubesighede en ’n tekort aan belangstelling om beleggers in die sektor te kry.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons gratis nuusbriewe.