Die Afgri-hulpfonds het Woensdag R300 000 aan mnr. Kosie van Zyl, stigter van die bemagtigingsprojek Agri Dwala, en sy vrou, Lize, se Kingdom Ambassadors Children’s Village in die Overberg oorhandig. 

Die oorhandiging is op Nampo deur LandbouweekbladLandbouweekliks, Afgri en Brand Republic gedoen. 

“Bystand aan opkomende boere is vir ons belangrik, maar dit is ook vir ons belangrik om landelike gemeenskappe in hul behoeftes te ondersteun,” sê mnr. Tinus Prinsloo, uitvoerende hoof van Afgri.

Met die Afgri-hulpfonds word beoog om die behoeftes van landelike omgewings aan te pak.

“Ondersteuning aan boere het Afgri nog altyd na aan die hart gelê,” sê mnr. Jacob de Villiers, finansiële hoofbeampte van Afgri. “Ons het vanweë ons betrokkenheid by vele ander projekte besluit om ’n fonds te stig waarmee ons geld op kort kennisgewing in noodgevalle beskikbaar kan stel.”

The Kingdom Ambassadors Children’s Village sien om na weeskinders en kinders wat verwaarloos en mishandel is. Die projek is in Junie 2016 met vier kinders begin. 

“Die behoefte in dié omgewing aan ’n plek van veiligheid vir kinders wat deur moeilike omstandighede gaan, het ons destyds geïdentifiseer toe ek nog skoolgehou het,” sê Lize. “Ek het besef daar is min sulke geriewe en ons het ’n behoefte om sulke kinders te help. Ons beoog om ’n plek te skep waar kinders in ’n veilige omgewing aan al die aspekte van die samelewing blootgestel word sodat ons hulle eendag gesond die wêreld kan instuur.”

Vandag versorg hulle meer as 40 kinders. Hulle moet egter weekliks kinders wegwys. Hoewel daar ruimte vir uitbreiding is, is hulpbronne beperk. 

“Ek kan sien hoe ons die plek kan uitbrei na ander plase sodat ons ’n groter verskil in die gemeenskap kan maak,” sê Kosie.

“Kosie was altyd ’n plaasbestuurder,” sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad. “Iemand in die omgewing waar Kosie gewerk het, het sy potensiaal raakgesien en hom gehelp om sy plase te koop. Vandag is Kosie ’n geliefde boer wat graag in die samelewing terugploeg. Sy storie is een van onbaatsugtigheid en opoffering. Van ons kant af is ons verheug om by die projek betrokke te wees.”

Kosie is baie opgewonde oor die potensiaal van die geld wat hulle ontvang het.

“Dit gaan ’n groot verskil in baie kinderlewens maak. Daar is soveel kinders wat net ’n hupstoot nodig het, en ons wil daar wees vir daardie kinders. Ons is so dankbaar hiervoor.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.