Me. Annette Steyn, die DA se skaduminister vir landbou, het gesê dit is kommerwekkend dat daar R900 miljoen rondlê, terwyl daar nie grond vir begunstigdes van grondhervorming aangekoop word nie. Sy het die ouditeur-generaal (OG) gevra om meer besonderhede te verskaf oor die geld wat geskuif is, sodat seker gemaak kan word daar was nie ongerymdhede nie. Die geld het oorgerol van die 2019-’20-boekjaar.

Dit het later uitgekom dat dié geld verlede jaar teen die Covid-19-pandemie aangewend is.

Die OG het die departement se besteding en uitkomste van die 2019-’20-boekjaar aan die parlement se portefeuljekomitee vir landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling voorgelê.

Geldskuif

Steyn het in ’n parlementêre vraag aan me. Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, gevra waar die geld vir die Covid-19-toelae van R1,3 miljard vir die landbou vandaan kom.

Didiza het geantwoord dat die geld uit verskeie programme van die departement kom. Dit is R923 miljoen wat bestem was vir grondaankope, net meer as R147 miljoen vir grondhervorming, net meer as R129 miljoen vir administrasie en R100 miljoen vir landelike ontwikkeling.

Vertraging

Die skuif van die meer as R900 miljoen vir die Covid-19-hulp het glo meegebring dat die departement nie sy verslag vir die 2019-’20-boekjaar betyds by die parlement kan indien nie.

Didiza vra in ’n brief aan die speaker, me. Thandi Modise, uitstel tot 31 Januarie vir die indien van die jaarverslag.

Weens die pandemie het departemente grasie tot einde November 2020 gekry om hul jaarverslae in te dien en nie soos gebruiklik einde September soos die nasionale tesourie voorskryf nie.

Die parlement het egter in September departemente laat weet dat hulle nie meer einde November 2020 nie, maar eerder voor 30 Oktober die jaarverslae moet indien.

Didiza verduidelik dat verdere uitstel gevra word omdat die OG op 14 Desember 2020 aangedui het dat hy nog met die tesourie moet ontmoet om te bespreek hoe die voorwaardelike toelaes hanteer moet word.

Die departement het aangedui hy sal sy jaarverslag teen 28 Februarie in die parlement ter tafel lê.