Die geleenthede wat dié mark bied, asook die vereistes om deel daarvan te word, is op Dinsdag 19 Februarie met onder meer opkomende boere en ander belanghebbendes tydens ’n werksessie by die Kaapstadse Internasionale Konvensiesentrum bespreek. Die werksessie is deur die African Farmers’ Association (Afasa) aangebied.

Dr. Pieter Prinsloo van Agri SA het tydens die werksessie se paneelbespreking melding gemaak van opkomende boere se verwarring rondom sertifisering, die jaarlikse oudits wat gedoen moet word, en die duplisering van standaarde wat onnodige koste tot gevolg het. 

Standaarde nie onderhandelbaar

Outreach South Africa, ’n inisiatief wat inligting verskaf oor die vereistes en voordele van die handelsooreenkoms tussen die Suid-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) en die EU, stel voor dat hulp aan boereverenigings, belanghebbendes in die private sektor en die Regering beskikbaar gestel word sodat hulle opkomende boere met die sertifiseringsproses kan help.

Mnr. Andrew Jones, direkteur van Fair Venture en een van die sprekers op die werksessie, het gesê ’n moontlike oplossing vir baie van die probleme wat opkomende boere met die sertifiseringsproses ondervind, is om hulself te groepeer en standaarde vir hulself op te stel. Sodoende kan hulle die koste van sertifisering deel. Dit is egter nie onderhandelbaar dat hulle steeds aan die EU-markte se standaarde vir voedselveiligheid en -gehalte sal moet voldoen nie.

Mnr. Antoine Faure van Ecocert, ’n sertifiseringsagentskap wat sy dienste in meer as 130 lande wêreldwyd aanbied, het gesê prosesse is reeds van stapel gestuur om die sertifiseringsproses meer bekostigbaar te maak. Hy het egter gewaarsku dat die proses ingewikkelder gaan raak namate die plaaslike mark vir organiese produkte ontwikkel aangesien daar verskillende etikettering vir die onderskeie markte sal moet wees.

Landbouprodukte met potensiaal

Ten spyte van die struikelblokke wat boere moet oorkom wanneer hulle die EU-markte wil betree, is daar volgens Outreach South Africa verskeie produkte waarmee hulle op dié markte sal kan handel dryf. Daar is ’n groot vraag na fynbosblomme, wat uniek aan Suid-Afrika is. Hoewel die pryspremie vir blomme wat op ’n volhoubare manier geoes word tans nie baie groot is nie, word verwag dat dit in die toekoms kan verbeter. Die bedryf se potensiaal vir groei is egter beperk aangesien fynbos slegs in sekere streke groei.

Rooibos- en heuningbostee is nog kommoditeite wat slegs in spesifieke dele van Suid-Afrika voorkom. Die vraag daarna in die EU groei tans danksy rooibostee se vele gesondheidsvoordele en dit kan reeds op die rakke van vele Europese supermarkte en gesondheidswinkels gevind word.

Om heuningbostee te kweek, oes en verwerk is egter arbeidsintensief. Ten spyte daarvan ondersteun die Wes-Kaapse regering reeds verskeie organiese heuningbostee-projekte en dit het die potensiaal om ’n volhoubare en winsgewende produk te word. Die groot probleem vir rooibosteeboere is klimaatsverandering en die impak wat hul boerdery het op die omgewing waar rooibostee verbou word.

Hoewel sybokhaar nie net in Suid-Afrika gevind kan word nie, is Suid-Afrika een van die voorste produseerders van dié vesel. Suid-Afrika en Lesotho is saam vir die helfte van die wêreld se sybokhaarproduksie verantwoordelik. Die meeste sybokbaar word in die Oos-Kaap verwerk en 90% daarvan word deur Port Elizabeth uitgevoer. Die gewildheid van dié vesel word toegeskryf aan verbruikers se voorkeur vir kledingstukke wat van natuurlike vesels gemaak word. Volgens Outreach South Africa kan Suid-Afrika baat vind daarby om sybokhaar op ’n meer volhoubare en etiese manier te produseer.

Die wolbedryf kan ook munt slaan uit die toename in vraag na natuurlike vesels. Hoewel dit duur is om skape aan te koop, is dit nie baie duur om ’n wolboerdery op die been te bring nie en is skape makliker om te bestuur as beeste. Veediefstal, wat dikwels op skaapplase plaasvind, is egter ’n groot probleem vir die bedryf. Vir opkomende boere is dit ook moeilik om grond te bekom.

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.