Leslie is Sondag oorlede. Hy is op 31 Augustus op dié plaas aangerand en beroof. Hy het ná die aanval nooit volkome van sy beserings herstel nie.Sy seun, James, sê hy het nie besef hoeveel mense se lewens deur sy pa aangeraak is nie. “My pa het nie baie gesê nie, maar hy het baie gedoen.”

Hy sê hy sal die goeie voorbeeld wat sy pa vir hom en sy susters gestel het, altyd onthou. “Ook sy ongelooflike integriteit. Sy ja was sy ja en sy nee was sy nee. Hy was ook gedissiplineerd en nederig, glad nie spoggerig nie. Hy het ook nie daarvan gehou om enigiets te mors nie.”

Die Sesisonke-boerdery op Christina is ’n gemengde boerdery wat tydens die besigste seisoen sowat 1 000 werkers in diens neem. James boer sedert 1992 heeltyds saam met sy pa. Hy het vakansies en elke oomblik wat hy kon, aan sy pa se sy deurgebring. “Ek het basies in sy bakkie grootgeword. Ek was altyd by hom. Dit is hoekom ons besigheid so suksesvol was. Ons het mekaar verstaan, nie een argument gehad nie en mekaar vertrou.”

Mnr. Joppie Bezuidenhout, wat al 13 jaar in die plaas se werkwinkel werk, sê Leslie was vir almal op die plaas soos ’n pa. “Ek dink nie daar is enigeen op hierdie plaas wat nie iets by hom kon leer nie. As jy iets verkeerd gedoen het, het hy nie met jou baklei nie, maar eerder die regte manier gewys.”

Mnr. Herman Swart, een van die bestuurders in die boerdery, sê Leslie was ’n rolmodel en ’n legende in die aartappelbedryf. “Hy het vir baie van die jonger manne in die bedryf die fynere besonderhede daarvan geleer.”

Mnr. Oupa Shabalala, direkteur van menslike hulpbronne op die plaas, sê Leslie, waarna daar liefdevol as “mkulu” verwys is, het hom soos ’n seun behandel. “Ek het nog nooit in my lewe so ’n nederige mens geken nie. Hy het nie baie gepraat nie, maar sy dade het harder as enige woorde gespreek. Ons het ’n ikoon verloor.”

Shabalala sê Leslie het ’n mens altyd reguit geantwoord en het daarop aangedring dat dinge reg gedoen word. “Hy was al in sy 80’s, maar hy het nooit vergeetagtig geword nie. En as hy vir jou gesê het dat iets gedoen sou word, kon jy daarop staatmaak. Hy was ’n merkwaardige mens wat ek nooit sal vergeet nie. Ek dank die Here dat ek die voorreg gehad het om hom te kon ken.”