Volgens Netwerk24 is ’n tiener (16) en ’n man (23) aangekeer. Hulle sal vandeesweek op aanklag van moord in die landdroshof in Alexandria verskyn.

Volgens Agri Oos-Kaap is die verdagtes aangekeer danksy samewerking tussen die plaaslike polisiediens, belanghebbendes in landelike veiligheid en plaaslike boere. Die honde-eenheid in Port Elizabeth is ook ingeroep. Dit het gehelp dat gesteelde items teruggevind en ’n verdagte geïdentifiseer is.

Boere het dié verdagte Sondagoggend ongeveer 15 km van die moordtoneel met die hulp van die plaaslike gemeenskap aangekeer.

Saamwerk

“Agri Oos-Kaap wens die plaaslike boere, die SAPD, PE-honde-eenheid, private sekuriteitsmaatskappye, teenstroopeenhede en die plaaslike gemeenskapslede en hul werknemers geluk met hul vinnige optrede en die rol wat hulle gespeel het om die verdagtes vinnig aan te keer.

“Gewelddadige misdaad raak alle gemeenskappe regdeur die land en plattelandse gemeenskappe is geen uitsondering.”

Volgens mnr. Doug Stern, voorsitter van Agri Oos-Kaap, wys die spoedige inhegtenisneming van misdadigers dat landbougemeenskappe onvermoeid sal saamwerk met die polisie en ander belanghebbendes om te verseker dat oortreders van soortgelyke misdade doeltreffend kortgevat sal word.

“Belanghebbendes wat in ooreenstemming met die wet saamwerk, sal die doeltreffendste reaksie wees in die toename in die vlaag misdade reg oor die land.”

Stern prys boere dat hulle verantwoordelik opgetree en die inhegtenisneming van ’n verdagte bewerkstellig het.