Mnr. Renier Roets, ’n boer in die omgewing en ’n sektorhoof van die GPF, sê hulle was al geruime tyd op die mans se spoor. “Ons het hulle drie weke gejaag. Ons glo hulle was die oorsaak van baie probleme in ons omgewing. Die pistool wat hulle by hulle gehad het, is Februarie in ’n ander aanval gesteel. En dit is baie moontlik dat hulle betrokke was in die aanval hier, sowat agt dae gelede.”

Mnr. Kerneels du Plessis (73) is op 4 Maart in die vroeë oggendure aangerand toe hy op agt mans afgekom het wat besig was om hom en sy vrou te beroof. Du Plessis se seun, Willem, wat naby hulle woon, het nader gehardloop toe hy sy pa se gille hoor. Die aanvallers het op die vlug geslaan.

Donderdag, net voor 08:00, is me. Annette Gerber (73) in haar tuin deur twee mans oorval. Een was met ’n 9 mm-pistool gewapen. Roets vertel dat hulle haar in haar gesig gegryp en teen die grond vasgedruk het. Daarna is hulle glo in die huis in om na haar man, Gerhard (71), te gaan soek. Hulle het net sy selfoon by hom gegryp en toe weggehardloop.

Roets sê hulle is onseker waarom die mans so vinnig die hasepad gekies het, maar dit kan wees dat bure die Gerbers se gille gehoor en alarm gemaak het. Gerhard het ook dadelik oor die tweerigtingradio laat weet hulle is aangeval en van GPF se lede was binne minute op die toneel.

“Ons het ’n baie goeie radiostelsel en die gemeenskap, die GPF en twee van ons plaaslike sekuriteitsondernemings het ongelooflik vinnig bymekaar gekom. Daar was ook baie vinnig twee private helikopters wat oor die omgewing begin vlieg het. En later was daar selfs ’n derde een en het die polisie s’n ook opgedaag.

“Daar is baie lusernlande rondom die Gerbers se huis en die enigste wegkruipplek is ’n beboste spruit. Daar was seker so 80 mense en ons kon die spruit behoorlik afsper. PPS en Tactical 9 (twee sekuriteitsfirmas) se ouens het die spruit met hul honde begin fynkam.

“Toe hulle op die twee mans afkom, het hulle op die sekuriteitsmanne begin skiet. Die ouens van sekuriteit het teruggeskiet en albei gewond. Ek weet een is swaar gewond, maar ek het nog nie weer nuus ontvang oor hul toestand nie.

“Ons is baie bly ons kon hierdie ouens vastrek. Jy weet, die mense in ons omgewing het in vrees begin lewe omdat ons soveel moeilikheid hier beleef het die afgelope tyd.”

Roets sê die optrede deur die gemeenskap is net nog ’n bewys dat boere betrokke moet raak by hul plaaslike veiligheidstrukture. “Dit is regtig die enigste manier hoe ons ons boerderygebiede veiliger gaan kry. Mense moet betrokke raak. Nie net praat en kla nie. ’n Goeie begin is om uit te vind wie is deel van die GPF in jou gebied. Elke dorp in die land het ’n GPF en hulle is daar om die polisie se oë en ore in die gemeenskap te wees.”