Die kosstalletjies op die terrein word deur organisasies sonder winsoogmerk soos skole of kerke bedryf. Hulle het die kuns vervolmaak om in ’n japtrap jou bestelling uit te voer. 

Landbou.com het by die stalletjie van die Hervormde kerk Bothaville gaan inloer waar die gemeentelede soos ’n geoliede masjien saamwerk. Dáár is vir die eerste keer ’n monteerband vir pannekoeke opgemerk. ’n Mens wonder of dié slinger-aangedrewe band dalk enig in sy soort is en sal van lesers wil hoor of hulle van soortgelyke planne weet wat kerke of skole gebruik om hul kosverkope makliker te maak.

Ds. Carel Botma vertel die Nampo-stalletjie is sy gemeente van 240 belydende lidmate se vernaamste jaarlikse geldinsamelingsprojek. Dit is ’n “groot spanpoging waar almal inspring om te help, van die verwerking, gaarmaak en verpakking van die vleis tot die vervoer daarvan na Nampopark toe”.  

Vanjaar is sewe beeste geslag wat in sowat 1,6 ton maalvleis omskep is, vir die vetkoeke, jafels en kerrie-en-rys. “Dis nou afgesien van die bene wat afgekook word vir bredie. Saam met die vleis word 800 kg groente gebruik, en dit sluit die uie uit. Ons praat hier in tonnemaat van kos.”

Daar word tot 400 liter pannekoekdeeg per dag gemaak en gebak en dis nie buitengewoon om daagliks tot 900 vetkoeke te vul nie. Elke dag is daar ’n span van tot 40 gemeentelede wat die stalletjie behartig. 

“Daar is duisende dinge wat gedoen moet word om hierdie masjien te laat loop. Maar weet jy wat, dit het ná al die jare tweede natuur geword en elkeen weet presies wat om te doen,” vertel Botma.

Hy sê dit is baie moeilik om te voorspel hoe die dag se verkope gaan lyk. “Ons het egter deur die jare geleer om die situasie te lees en aan te pas by die behoeftes.”

Hy beskou die jaarlikse harde werk by die Nampo-stalletjie as ’n geleentheid waar gemeentelede hegte bande smee. “Ons kuier terwyl ons werk en lig mekaar se gees wanneer ons moeg raak. In die kerlike opset word maklik van broers en susters gepraat – maar hier raak ons werklik familie en die gemeente kom agter die dominee se voete raak ook maar seer nes hulle s’n.” 

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe. Volg ons op Whatsapp om daaglikse landbounuus op jou selfoon te ontvang.