Die organisasie sê in ’n verklaring dit is ironies dat 93% van die grondeisers eerder geld as die grond kies. Mnr. Louis Meintjes, voorsitter, het in reaksie op pres. Cyril Ramaphosa se gesprek met koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes gesê die President moet dalk net so ywerig met TLU SA in gesprek tree.

“Ons is wettige grondeienaars. Ons het geen grond gesteel nie, ons betaal belasting daarop en ons kan titelaktes toon wat deur die staat uitgereik is, en waardeur ons eiendomsreg dus uitdruklik erken word.” Hy sê bowendien is dit boere wat sorg dat daar kos op die tafel is, ook vir die politici.

“Dit is nie net die Zoeloevolk wat ’n trots op hul grond het nie. Ons boere kom in talle gevalle oor geslagte heen in die landbou. Boere het in die landbou belê en hulle probeer deurlopend doeltreffender boer om te kan voorsien in die stygende vraag na voedsel in die land. Ons boere kan net so emosioneel word oor grond as die Zoeloes en ’n verantwoordelike President sou oor daardie feit net so besorg moet wees as wat hy was om inderhaas vure te gaan doodslaan by die Zoeloekoning.”

Dubbele standaarde

Meintjes sê die feit dat wel met die Zoeloes gesels word en dat lede van die Regering gesê het dat “swart grond” nie gevat sal word nie, toon duidelik dat daar ’n rassistiese agenda is teen die sogenoemde blanke boere en grondbesitters. “Dié blatante rassisme, dubbele standaarde en die oneerlikheid van die ANC oor die grondbesitregkwessie is ’n saak waarvan nasionaal en internasionaal ernstig kennis geneem moet word.”

Meintjes sê dit is onaanvaarbaar is dat die kommersiële boere wat kos aan die land voorsien, in hul eie land as misdadigers voorgehou word.  “Al waaraan boere skuldig is, is om deurentyd op te bou, die ekonomie te stimuleer en kos aan alle inwoners van die land te voorsien – ongelukkig volgens die ANC as deel van ’n verkeerde rasgroep.  Dit laat TLU SA geen ander keuse nie as om saam met ander  belanghebbendes alles moontlik te doen om maksimum internasionale druk op die ANC-regering toe te pas nie, al moet dit in die vorm van sanksies wees.

“Die uitgangspunt van die ANC oor die geskiedenis van grondbesit is op leuens gegrond.  Daarmee saam word daar deurlopend gelieg oor die besitreg van die onderskeie rasse.  Hierdie strategie word grootliks aangedryf deur die ANC in ’n poging om homself te red.”

Ontvang die nuutste landbounuus en -raad in verskeie bedrywe - teken HIER in vir een van ons nuusbriewe.